
Ses maak jou die (jaag)duiwel in wat op 21 Mei op die News se webtuiste gepubliseer is, het betrekking.
Na aanleiding van genoemde artikel wil dit voorkom of u glo spoed is die enigste verkeersoortreding.
Ek sou graag die span van vyf en al die beamptes van die lisensie-afdeling wil uitdaag om net een dag vir net twee ure in die strate rond te beweeg om te besef hoeveel ander verkeersoortredings daar is.
Ek stel voor die geld wat aan hofsake gespandeer word om lisensies op te skort eerder gebruik word om verkeersbeamptes weer op te lei sodat hulle weet wat hul pligte is en weer op straat sigbaar is.
Mnr Geyer sit met sy spoedkamera in Barrettstraat en ‘n paar honderd meter agter hom jaag bestuurders oor ‘n rooi verkeerslig. By ‘n voetoorgang. Die bestuurders word beboet vir spoed, want die verontagsaming van die rooi verkeerslig is minder belangrik.
By Magaliesburg en Hekpoort word spoedkameras beman terwyl daar op dieselfde pad voertuie op sperstrepe verbygesteek word. Hierdie oortreding is absoluut lewensgevaarlik maar die spoedoortreding is blykbaar belangriker.
In Luipaardstraat is daar soms verkeersbeamptes teenwoordig by stopstrate terwyl daar by die verkeerslig by die gevangenis vele bestuurders die rooi verkeerslig verontagsaam.
Kom ons gaan terug na Barrettstraat waar se lyne onlangs geverf is – daar is halwe werk gedoen en wie hou daaroor toesig?
Die geel strepe waar Louis Friedmanstraat aansluit is nie weer geverf nie en die poging met die wit strepe maak ook nie oral sin nie. Gaan kyk gerus en u sal sien wat ek bedoel.
Staan asseblief aan my ‘n hele bladsy af en daar sal nog veel meer uitgebrei kan word.
Padgebruikers én verkeersbeamptes het ‘n verantwoordelikheid met betrekking tot padveiligheid.
