
In antwoord op Anoniem se skrywe Meisies doen dit uit eie wil gepubliseer op 19 Junie in die koerant.
Dis met ’n glimlag dat ek die brief lees. Ek wonder hoe oud die brief se skrywer is? Òf baie jonk, òf heeltemal sinies.
Ek wens die lewe wás so eenvoudig en maklik om een groep te verdoem en ’n ander skotvry te laat.
Ek weet nie of die buitelanders van Sivewrightstraat slawerny ondersteun nie, maar ek weet wel dat al die mense waaraan hulle hul produkte verkoop slawe word van ’n bose kringloop wat selde of ooit stop.
Oor die slegte meisies kan ek wel sê dat ek nou onlangs ’n nuwe gesiggie opgemerk het. Sy is ’n pragtige kind wat seker nie ouer as 15 kan wees nie. Ek wonder waar is haar ouers? Hoe het sy daar beland? En wat gaan van haar oorbly oor ’n paar maande van nou af?
Ek wonder soms hoekom ons so vinnig klippe gooi? Hoekom bly ons nie eerder stil as ons niks goed het om te sê nie? Of is dít wat om ons aangaan dalk te naby aan die besef dat dit ons kon gewees het?
Ek weet nie of die meisies kan of wil gehelp word nie, ek weet net dat ek jammer voel vir hulle, al is dit net uit menslikheid uit.
