
My suster gebruik al jare lank ’n plan om te sorg dat haar meterlesings korrek is.
Sy het ’n sekere datum waarop sy elke maand haar water- en elektrisiteitlesings neem, wat sy dan op ’n swart bordjie aanteken en by haar hek hang sodat dit sigbaar is vir die meterleser.
Sulke bordjies is goedkoop en maklik bekombaar of kan self gemaak word deur swartbordverf op ’n stuk veselbord (hard board) te verf en met bordkryt elke maand lesings daarop aan te teken.
Ons lesings word elke maand in Krugersdorp-Noord geneem, maar soms is niemand tuis nie en kry ek ook ’n geskatte lesing.
As Mogale City net vir ons ’n datum kan gee wanneer elke buurt gelees gaan word, kan ons sorg dat ons swartbordjies op die datums beskikbaar is.
Ek gaan vir my so ’n bordjie koop en ek hoop die meterleser verstaan die konsep.
Ek hoop dit help en word sommer gou in gebruik geneem.
* Geagte Boer-maak-’n-plan, baie dankie vir die oulike idee. Gaan besoek gerus ons webtuiste by www.krugersdorpnews.co.za en soek vir die artikel Meter reading schedule om die datums te sien wat Mogale City deurgegee het as hul meterlesingsdae — Red.
