Die ANC-regering moet val!
Nie slegs Zuma nie. En die enigste twee maniere om ’n regering uit te skop en te vervang met ’n ander, is óf op ’n gewelddadige manier soos ’n staatsgreep, of op ’n vreedsame manier soos ’n verkiesing. Eersgenoemde is uiteraard nie aanvaarbaar nie, dus is daar slegs die demokratiese manier – ’n verkiesing. Die petisies, Twitter-storms, Facebook-boodskappe en optogte help alles om stemming onder mense op te bou, maar dit sal nie die regering laat val nie. Dus, ons taak as opposisie bly steeds om die kiesers te laat registreer, by die stembusse uit te bring en vir die DA te laat stem. Dan kan ons beter regeer en oplossings implementeer.
Een van die belangrikste take van ’n opposisieparty is om gereed te wees wanneer die geskiedenis ’n wending neem; om korrek geposisioneer te wees sodat dit gebeure ten beste kan benut. Wat nou in Suid-Afrika gebeur is dat die magsblok van die ANC besig is om te verbrokkel; die mees onlangse gebeure soos die verskyning van Justice Malala se boek We have now begun our descent en die uitsprake van struggle-aristokrate Ben Turok, Barbara Hogan en Matthews Phosa. Soos die krake al groter word, sal stukke verder begin afbreek soos reeds gebeur het met Cope en toe die EFF.
Hierdie toenemende verbrokkeling sal uiteindelik ’n politieke herskikking noodsaak, waarin die DA dan ’n sleutelrol sal speel. ’n Magtige heersende party is aan bewind vir ’n tydperk, die onafwendbaarheid van die geskiedenis haal hom in en dit begin verbrokkel; en dan begin die herskikking. Die taak van die DA is nie om so ’n golf te probeer keer nie, maar om gereed wees om die golf te ry wanneer dit uitspoel.
Daar is dus parallelle tussen toe en nou.
* Brief verkort – Red.
