
Einde Februarie het my water-en-ligterekening R4 528, 58 beloop. Ek het slegs R3 000 daarvan betaal, wat toe daarna ‘n uitstaande balans van R1 528,58 gewys het.
In verskeie kommunikasie met die kantoor is daar laat weet dat daar maande gaan wees dat die volle bedrag nie net van een salaris betaal kan word nie en die rekening sal na die 15de van ‘n maand vereffen word.
Omdat ek en my man albei staatsamptenare is betaal ons soms die bedrag uitstaande op ‘n rekening in twee paaiemente. Op 16 Maart het ek besoek ontvang van die munisipaliteit om my krag af te skakel, sonder enige aanmaning of waarskuwing. My ouers woon by ons en my moeder gebruik suurstof.
Ek vra as hulle eenvoudig die krag afskakel kan dit my moeder se toestand verswak, en of hulle die kostes en die verlies gaan dra. Danksy my vader wat tuis was is die krag nie afgeskakel nie maar ons moes na hul kantore gaan om die bedrag onmiddellik te betaal.
Tot ons skok word ons by die kantore ‘n addisionele bedrag van R1 011,18 gevra vir administrasiekostes. Waar in jou lewe betaal mens so ‘n bedrag en hoe is dit uitgewerk? Rente is nie eers so hoog nie.
Verder verkry mens state maar die munisipaliteit is ‘n maand agter en toon nie jou betalings wat gedoen is op die rekening nie. Jy moet dit self gaan uitwerk. Daar word dus mos nie ‘n ordentlike diens gelewer nie.
