
Eerstens, dankie vir die News dat julle my toelaat om vir elkeen ‘n dankie-drukkie te gee.
Ek en my twee seuns het in 2012 uit die Upington-omgewing na Krugersdorp verhuis. Pieter-Schalk het dus in Graad 8 by Hoërskool Noordheuwel begin. Daarom wil ek baie, baie dankie sê vir die beheerliggaam, elke onderwyser/es, vriend/in, waarmee hy ‘n pad gestap het, en wat julle vir PS beteken het.
Wat ‘n groot voorreg.
Ek sal dit altyd koester. Lizelle van Eden, asook die omgee-mammas, dankie vir jul hulp.
Die dierbare personeel van Westgold Primary in Randfontein waar ek skoolhou, baie baie dankie vir jul ongelooflike ondersteuning.
Die bikers-gemeenskap van Krugersdorp onder leiding van Danny Roos en Prins Chris Fourie van Aroeka Fitness, baie dankie vir die motorfiets-saluut, dit was onbeskryflik aandoenlik …
Dankie aan Christian Faith Worship Centre (CFWC), waar Pieter-Schalk in die gemeente was – prof Gerrie Bester (oom Gerrie), so, so baie dankie vir dit wat jy in my kind ingebou het, en dat jy bereid was om vir hom ‘n geestelike pa te wees.
Al die prinse en prinsesse van Abba in CFWC; dankie vir jul ongelooflike groot harte vir my en my kind.
Pastoor Noel en gemeentelede van Real Life Church … baie dankie vir jul groot en liefdevolle harte.
Aan ADT, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums se first-aid responders, mediese personeel van Milpark Hospitaal, ER24 se helikopterdienste en mediese personeel, en Yolanda, Petro en Justin (inwoners bokant die ongelukstoneel).
Dr Willie Coetzer van Medicross, jy het so baie vir Pieter-Schalk beteken. Jou hulp was van onskatbare waarde.
Dr Dirk Booysen, ek wil vir jou ook baie dankie sê. Toe Pieter-Schalk in Graad 11 ‘n erge oogvirus gehad het, het jy dag vir dag sy oë behandel. Hy het baie respek vir jou gehad.
Dankie vir die geleentheid wat Pieter-Schalk gehad het om vir die Khosaklub krieket te speel. Ag, dit was so lekker om my seun te sien groei … hy het ‘n eerbewys ontvang vir beste opkomende speler.
Wyd en syd het mensies my voorgekeer met drukkies en belangstelling. Baie dankie.
Ek sluit met die woorde van Pieter-Schalk af, “I am on fire for Christ”.
Krugersdorp, staan saam en kry jou hart gereed vir die koms van ons groot Koning, Jesus.
* PS Grobbelaar, 17, is op 20 Februarie oorlede nadat sy motorfiets in Luipaardstraat met ‘n voertuig gebots het.
