
Ek was ‘n kliënt wat tydens die rooftog in die bank was.
Wat ‘n klug is al ons beskermingsdienste nie. Ons was twee kliënte en drie werknemers in die bank. Die jong dames wie se name ek nie ken nie het hulle fantasties van hul taak gekwyt.
Hulle het die paniekknoppie gedruk en weer die deur probeer toemaak. Ons het in ‘n klein vertrek gaan wegkruip.
Daar is probeer om die polisie te bel, sonder sukses – eindelik deurgekom maar nie juis baie bereik nie.
Daarna is ons uit die vertrek. Die GPF daag op en word toeskouers van die beseerde wat in die bank lê. Die sekuriteitsmaatskappy daag op en word toeskouers van die beseerde.
‘n Vrouepolisielid daag op, loer in en vra hoeveel beseer is en verdwyn toe. Ons in hoogs getraumatiseerd maar niemand kyk eers in ons rigting nie.
Ek vat my handsak, kruip onder deur die deur en verlaat die toneel sonder dat iemand my probeer keer.
Waar is die professionele mense wat so ‘n saak moet hanteer? Almal was net toeskouers.
Ek het my vertroue in die beskermingdienste verloor.
Wie gaan ons beskerm teen dié soort misdaad wat net toeneem?
