LettersOpinion

Dit moet nou einde kry!

Christo Peyper, DA-koukusleier van Krugersdorp skryf:

Die DA-koukus in Mogale City neem met diepe bekommernis en skok kennis van die drie moorde kort op mekaar in Krugersdorp. Ons betuig ons innige medelye met die gesinne en vriende van die slagoffers.

Twee mans, albei versekeringsmakelaars, en ’n vrou, ’n eiendomsagent, is onlangs vermoor op klaarblyklik ’n soortgelyke manier. Die hoeveelheid moorde in die land het oor die vorige finansiële jaar met 4,6 persent gestyg – volgens die misdaadstatistieke vrygestel deur die Minister van Polisie, Nathi Nhleko.

Ons is hewig geskok oor die vlaag van misdaad wat ons gemeenskap tans teister. Die mense van Mogale City is onderhewig aan ’n hoë mate van stres as gevolg van die toenemende golf van gewelddadige misdaad wat ons teister. Ons kan nie toelaat dat dit so voortgaan nie.

Volgens Stats SA is die misdade wat mense die meeste vrees, huisbrake en daarna berowing in wonings en op straat. Nou lyk dit egter of moord so algemeen word dat dit die mees gevreesde misdaad mag wees.

Die hoë misdaadsyfer kan deels toegeskryf kan word aan swak ekonomiese omstandighede. Maar ’n ander groot bydraende faktor is gebrekkige polisiëring. Ongelukkig is daar min senior polisieamptenare wat werklik doeltreffend leiding gee. Korrupsie in die polisie vier landwyd hoogty, moontlik omdat baie senior lede swak voorbeelde stel. Verder speel die polisie se onvermoë om teen dwelmhandelaars op te tree, wat grootliks bydra tot misdadigheid, ook ’n rol.

Die huidige regering het klaaglik gefaal om ’n doeltreffende polisiediens op te bou en te handhaaf. Indien daar nie binnekort verandering kom nie, gaan ons ’n tyd van toenemende anargie binne. Wanneer die DA aan bewind kom, sal hierdie toestand beredder word.

Wat kan mens doen om jouself te beskerm? Mens kan onder andere tegnologie inspan – dink aan die veiligheidsaspekte van jou selfoon. Jy kan ook krities kyk na die veiligheid van jou huis – buiteligte? Toegangspunte?

En laastens, indien jy vreemdelinge moet ontmoet, sorg dat dit in ’n openbare plek is en indien moontlik, sorg dat iemand saam met jou kom.

Ons wens al die mense van Mogale City ’n veilige tyd toe waarin ons elkeen ons daaglikse pligte as landsburgers in vrede kan verrig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button