
Ek behoort aan die top opsie van my mediese fonds, maar met ‘n Sassa-toelae as hoofbron van inkomste is die premie baie meer as my inkomste.
As gevolg van ‘n bloedprobleem en peperduur medikasie, het ek geen opsie as om aan ‘n mediese fonds te behoort nie. Ek bly by my seun-hulle en word deur hulle bygestaan.
Tot einde verlede jaar is besoeke aan ingekontrakteerde dokters ten volle deur die fonds vereffen, maar deesdae is daar met elke besoek ‘n bybetaling. Besoek ‘n mens ‘n nuwe dokter of spesialis, verwag hulle eers R550 – R650 vir “admin” en dikwels moet jy vir elke besoek kontant betaal en daarna ‘n eis instel.
Meeste spesialiste is uitgekontrakteer. Moet jy narkose kry, is jy vreesbevange om wakker te word en die rekening onder oë te neem, want daar word tot drie maal die mediese fonds-bedrag gehef!
Tandartse wat kamtig ingekontrakteerde gelde hef, se rekeninge het deesdae gereeld ‘n paar honderd rand se tekort, maar dan word laboratoriumkoste daarvoor blameer.
Wat my die meeste dwars in die krop steek, is dat dokters klaarblyklik nie meer belangstel in hul pasiënte nie, want hul slaan die lêer oop en trek dadelik die voorskrifboekie nader. Jy as pasiënt kan dikteer wat hul moet voorskryf. Tensy jy spesifiek oor ‘n pyn kla, word jy nie eens ondersoek nie. Beland jy by ‘n vennoot wat jou nog nie voorheen gesien het nie, word jou bloeddruk en ander stats nie eens geneem nie. Tussenin lui die foon minstens een of twee keer en lei jy af dat ontvangs nog mense wil indruk. Durf jy dalk meer as een kwaal bespreek, word daar geïrriteerd na die tyd gekyk en jy kry die indruk dat jy die aftog moet blaas!
Dit kom voor asof die praktyk verwag dat dokters al hoe meer pasiënte moet spreek sodat daar nóg meer geld kan inrol. Dit gaan lankal nie meer oor die welsyn van die pasiënt nie, maar oor geld. Daar is hier en daar ‘n uitsondering, ‘n dokter wat werklik omgee vir sy pasiënte, maar so ‘n dokter bly nie lank voordat hulle beter weivelde soek nie, gewoonlik as spesialis of oorsee.
As dokters nie meer in hul pasiënte se welsyn belangstel nie, verlaat liewer die professie as om pasiëne af te skeep!
