
Na vele navrae by die DA-kantoor waarop slegs stilswye gevolg het, kry ek dalk hier die antwoord.
Wat het geword van Matthys van Tonder, ons raadslid in Krugersdorp-Wes wat so hard en toegewyd vir die gemeenskap gewerk het?
Hy was ‘n baie aktiewe raadslid en het onder andere die plakkers uit die Paul Kruger-saal laat verwyder. Dit is baie jammer dat hy nie weer beskikbaar was as kandidaat nie, want so het Matthys ook die nodige herstelwerk aan die swembad laat doen. En skielik is hy sommer net verwyder?
Hy was die Hoofsweep van die DA aan die Wes-Rand en die vredemaker by die betogings by West Village. Wanneer Matthys geskakel is oor straatligte of ander probleme, het hy altyd werk daarvan gemaak. Dit was ook hy wat gesorg het dat Krugersdorp-Wes se strate altyd skoon was.
Hoe raak so ‘n hardwerkende en pligsgetroue man dan sommer net weg? Was dit ‘n poging om van blanke manlike kandidate ontslae te raak, of was hierdie ‘n magspel deur senior lede om vir Matthys sommer net uit te skuif?
Ek wonder of die DA hierdie vraag vir die kiesers kan beantwoord.
* Alan Fuchs, Kiesafdelinghoof van die DA in Mogale City gee terugvoering:
Die vrae en bespiegelinge in mev Pieterse se laaste paragraaf laat my met twee gevolgtrekkings. Eerstens, dat mev Pieterse wel weet wat van Matthys geword het, en die vraag stel om die aangeleentheid te gebruik om samesweringsteorieë te bevorder dat hy doelbewus uitgeskuif is. Tweedens, dat mev Pieterse dalk deur iemand van die verkeerde inligting voorsien word.
Hier is die feite: Die DA het ‘n deurdagte proses om kandidate vir die party te kies. Die proses is oop en so objektief moontlik. Deur die proses is Matthys aangewys om die DA in Wyk 9 te verteenwoordig, terwyl ’n nuwe kandidaat aangewys is om die DA se kandidaat in Wyk 26 te wees. Tydens die werwingsproses het Matthys homself van die proses onttrek en kort daarna bedank as partylid. Dit is onder my aandag gebring dat hy op verkiesingsdag ‘n kandidaat van ‘n ander party ondersteun het.
Dus, om aantygings te bevorder dat daar sameswerings was om van wit mans ontslae te raak, of dat daar magspel was deur senior lede, tart logika uit wanneer mens in ag neem dat Matthys wel genomineer was om die DA in Wyk 9 te verteenwoordig. Miskien moet mev Pieterse ook kennis neem van die wit mans wat wel kandidate was vir die DA. Dit is so dat die DA Wyk 9 met 134 stemme verloor het, maar as party was dit ons mening dat met die regte gesindheid en dissipline, die DA die wyk kon wen.
Ons in die DA mobiliseer nie politieke steun op grond van ras nie, maar fokus liefs op waardes soos regverdigheid en geleentheid. Enige bespiegeling wat dit weerspreek, is nie waar nie.
