LettersOpinion

Waar is die DA-regering dan?

Bekommerde inwoner van Mogale City skryf:

‘n Paar weke gelede het die Burgemeester in die News voorstelle gevra van die kiesers.

Hier is my voorstelle.

Die Burgemeester kan gaan kers opsteek by die Johannesburg en Tswane DA Raad want hulle verskyn gereeld op TV en in koerante om die kiesers in te lig oor dit wat hulle al na die verkiesing bereik het en waarmee hulle besig is om vir hulle kiesers te gee waarvoor hulle gestem het.

Hier hoor en sien die kiesers niks van die regerende party se planne nie. Was daar ‘n visie met planne in plek as die DA sou wen? Almal het gewerk om te wen. Die beste plek om te slaag is waar jy is en met wat jy het. Wat gebeur nou?

Waar is die mense wat altyd agter bossies weggekruip het en jou verras het met ‘n boetekaartjie? Waar is die munisipale wette van Mogale City? Die amptenare van Public Safety behoort skofte te werk sodat die onheilighede van die nag vasgevat kan word. Vir 10 uur per dag sien jy hulle iewers rondry en die ander 14 uur is daar niks. Die alternatief is om hulle oortyd te betaal en sodat hulle saam met die polisie kan help om die gemeenskap veilig en wetsgehoorsaam te hou. Niks word gedoen oor die nuwe herwinningsbesighede wat soos paddastoele opskiet nie.

Die wind waai die papiere orals rond en ons praat nie eers van die stank nie. Wat gebeur as daar ‘n brand ontstaan en wie gaan dan verantwoordelik gehou word vir die skade? Dis asof elkeen nou kan maak soos hy wil. Dwelms en prostitute floreer oral en dronkbestuurders wat die tavernes besoek is ‘n gevaar op die paaie.

Gebreekte bottels lê oral in die strate van Mogale City. Drankhandelaars moet ingelig word van die verordeninge en as hulle die wette oortree, dan moet hulle besighede toegemaak word. Kyk hoe vuil is die strate waar motoriste van ander dorpe moet deurry. Watter indrukke kry hulle van ons omgewing? Dis tyd dat daar teen besighede opgetree word en hulle aanspreeklik gehou word vir ons vuil omgewing.

Bome moet gesnoei word en gras moet gesny word. Die straatligte moet gereeld vervang word . Die kriminele floreer in die donker. Die GPF wat gratis patrolleer, plaas hul lewens op die spel om die gemeenskap te dien. Help hulle ook om hulle doel te bereik in ‘n verligte, skoon en toeganklike omgewing.

Wat van die slaggate in die paaie? Dit is ‘n probleem vir motors. Ons as padgebruikers betaal ons lisensiegeld en ons verwag heel paaie. Wie gaan vir daardie skade betaal?

Oor die diens in die kontantsaal in Mogale City kan ek ‘n boek skryf. Daar is nie ‘n gebrek aan ervaring nie, maar aan lojaliteit. Vir elke persoon wat met die publiek werk moet daar ‘n dokument wees met die amptenaar se naam op waarop die besoekers die diens van die amptenaar volgens ‘n skaal van 0 tot 5 moet evalueer en dit in ‘n geslote houer gooi. So ‘n amptenaar wat aanhoudend nie presteer nie moet dan plek maak vir iemand anders wat trots is en weet hoe om die publiek te hanteer. Die amptenare se lyftaal spreek boekdele.

Elke wyk behoort uniek te wees en raadslede behoort hulle wyke te bestuur en in beheer te wees. Hulle moet voorsien word van die nodige toerusting om hulle wyke netjies en skoon te hou.

Hoekom kan elke wyk nie sy eie kontrakteur en toerusting kry nie? Dit sal help met werkskepping en sal die mense wat vir kwaadgeld rondloop besig hou. Die omgewing sal ten minste skoon en veilig gehou word.

Die DA-raadslede word deur die party gekies en behoort deur die kiesers van ‘n wyk benoem te word. Baie raadslede woon in ander wyke en weet nie wat in hulle eie wyke gebeur nie. Ken jou kiesers en maak ‘n verskil in jou wyk. As elke raadslid sy kant bring sal hulle baie meer stemme kry as hulle betrokke was in die wyk. Raadslede kry groot salarisse en behoort voltyds in hul wyke betrokke te wees.

Die DA kan baie geld spaar met ongewenste telefoonoproepe voor elke verkiesing. Wanneer daar voor die verkiesing gewerk word, kry die kiesers baie oproepe en baie beloftes, en die stemlokale loop oor van blou hemde, maar na die verkiesing is alles weg. Die raadslede ook. Selfs die DA-kantoor is nooit oop nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button