
Na aanleiding van die redakteur se nota, A life without the internet in die 28 September-uitgawe van die News, wil ek graag iets met die lesers deel.
Nadat ek klaar was met skool, moes ek dringend ‘n werk kry om sodoende ‘n salaris te kry terwyl ek met diensplig besig was. Die weermag het ons so te sê dadelik opgeroep. As jy nie aanmeld vir diensplig nie, is jy dadelik deur die militêre polisie gearresteer.
Gelukkig het ek toe ‘n werkie by die poskantoor gekry en sodoende het ek eerstehandse kennis opgedoen van die transaksies waarvan ek jou nou gaan vertel omdat ek by die hooftoonbank gewerk het.
Sou jy vir iemand dringend geld wou oorplaas, moes jy poskantoor toe gaan om ‘n poswissel te stuur (teen ‘n koste, natuurlik). Die ontvanger is dan per telegram laat weet dat hy sy geld by die poskantoor soos deur hom versoek kon gaan onttrek. Die ander manier van betaling was ‘n posorder om betalings te doen. Die posorder kon, soos ‘n tjek, ook gekruis wees en uitsluitlik vir die ontvanger gemerk word.
Sou jy iemand op sy landlyn bel en hy nie by die huis was nie, kry jy hom maar net nie in die hande nie. As jy hom dringend soek, moes jy maar poskantoor toe gaan en ‘n telegram vir hom stuur, hier in Suid-Afrika of oorsee.
As jy met vakansie gaan, moes jy van ‘n telefoonhokkie af jou mense laat weet dat jy veilig is. As daar nie geld was vir die oproep nie, kon jy ‘n kollekteeroproep maak. Ek het ook baie hiervan gebruik gemaak om my ouers te skakel terwyl ek op die grens was.
Wanneer ons gaan kamp het, het ek ‘n citizens band radio (CB) of burgerbandradio gebruik. Dan het ek kanaal 21 (noodkanaal) gebruik.
Die persoon wat my geantwoord het, het uit vriendelikheid my ouers geskakel en hulle ingelig dat ons veilig by ons bestemming aangekom het.
Dit in ‘n neutedop was ons lewe sonder sosiale media. Dis boonop nie eers so lank gelede nie.
