
Ek wil graag die volgende onder lesers se aandag bring rakende munisipale rekeninge by Mogale City.
Soos talle ander huishoudings betaal ons ons munisipale rekeninge elke maand getrou by President Hyper of een van die ander betaalpunte.
Gedurende April het my vrou ‘n SMS-boodskap van Mogale City ontvang dat ons rekening nog nie betaal is nie en dat ons hulle moet kontak as daar ‘n probleem sou wees.
Ek het eerstens die moeilike taak aangepak om telefonies met die rekeninge-afdeling kontak te probeer maak, maar sonder enige sukses aangesien niemand enige oproepe beantwoord nie. Ek het met behulp van ‘n ander persoon ‘n eposadres van ‘n dame by die kantoor gekry en die bewys van betaling vir haar gestuur.
Ek is toe meegedeel dat die toekennings nog nie gedoen is nie, en dit is toe later reggestel.
Begin Mei het ons weereens ons rekening betaal, dié keer by die stadsraad se kantore. Die kwitansie het toe gewys dat daar ‘n bedrag van R196 uitstaande is vir die een of ander service fee. Nadat ek die kantoor besoek het, het hulle my meegedeel dat die een van April was vir die kennisgewing wat hulle gestuur het om ons mee te deel dat die rekening agterstallig was. Die persoon het my toe ook gewys waar die bedrag in April reggestel is, maar dieselfde bedrag het toe weer in Mei op hulle stelsel vertoon. Die persoon kon my nie antwoord waarom dieselfde bedrag weer verskyn nie en het toe gesê hulle sal dit weer regstel.
My bekommernis en hoekom ek wil hê die boodskap moet gepubliseer word, is dat ons lesers hulle state behoorlik moet nagaan vir dié tipe error soos hy dit genoem het, want as ek nie die kantoor besoek het nie sou die bedrag by my volgende rekening gevoeg gewees het, sonder dat ons daarvan geweet het.
Hoeveel mense word nie met dieselfde slenter gevang nie? Daardeur maak hulle duisende rande.
