
Dinsdag, 21 Mei was dit ons kleindogter, Janellie se begrafnisdiens om 2nm. Sy is op 3 April gebore en het op Woensdag, 15 Mei na vier weke in die intensiewe sorgeenheid haar stryd teen die gevreesde RSV-virus verloor.
Die stoet na Sterkfontein Begraafplaas het om en by 2.45nm vanaf die Nederduitsch Hervormde Kerk Krugersdorp-Oos gemeente in Voortrekkerweg begin beweeg.
Ons as familie wil net vir Paul van First Help asook vir Pieter van QRS baie dankie sê dat hulle ons gehelp het om die verkeer by die verkeersligte asook die stopstrate te reguleer sodat die stoet vrylik kon beweeg. Hulle het dit uit hul eie gedoen; toe ons sien toe is hulle net daar en begin ons help.
Baie, baie dankie. Die mensdom is so ongeduldig. Ons was meer as eenkeer amper in ‘n ongeluk deur ongeduldige mense wat vloek en skree en toeter blaas! Dit is waarlik ‘n riem onder die hart om te sien dat daar tog nog mense is wat respek het vir ‘n begrafnisstoet.
Mag ons Hemelse Vader jul ryklik seën vir dié onselfsugtige gebaar.
