LettersOpinion

Mogale gee nie om oor dorp se voorkoms

Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid vir Mogale City, skryf:

Die stadsraad van Mogale City gee nie ‘n duit om oor die algemene voorkoms van die dorp nie, en nog minder oor die belange van die belastingbetalers.

Die VF Plus was onlangs deel van ‘n aksiegroep om die stadsraad tydens ‘n openbare integrale ontwikkelingsplan-vergadering tot verantwoording te roep rondom die oorhoofse optiese vesel-kabels wat tans in Krugersdorp aangelê word.

Inwoners is onder die indruk gebring dat die installering deurgaans ondergronds sou plaasvind. Dié proses was egter van korte duur met die diensverskaffer se ommeswaai weens hoë onderhoudskoste, en daar is toe besluit om die projek eerder bogronds voort te sit sonder insette van die belastingbetalers.

Hierdie goedkoper en makliker manier om teerpale ongeorganiseerd op sypaadjies te plant, is nie aanvaarbaar vir inwoners nie, en die VF Plus se raadslede gaan die munisipaliteit tot verantwoording roep rondom verskeie onreëlmatige besluitnemings rakende die projek.

Die party is nie gekant teen tegnologiese ontwikkeling nie, maar met ‘n projek van só ‘n groot omvang moet die inwoners ingelig word.

‘n Steekproef kan nie net oor die internet gedoen word nie. Die stadsraad kan ook nie nou, nadat die projek reeds in wording is, besluit om ‘n openbare vergadering te belê nie.

Die burgemeester het nie eens die moeite gedoen om die vergadering by te woon nie en die afvaardiging van burgemeesterskomiteelede wat hy gestuur het, kon geen antwoorde oor die aangeleentheid verskaf nie.

Die VF Plus gaan ‘n skrywe met inwoners se besware aan die burgemeester rig.

Krugersdorp se belastingbetalers verdien ‘n regverdige antwoord oor die saak aangesien dit hulle is wat die dorp se enjinkamer aan die gang hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button