
Ek en my vrou het in Junie ons huis in die mark gesit om te verkoop. Die huismark was baie stil vir die daaropvolgende twee maande en ons het besluit om die huis te skuif na MLS Wesrand.
Ek moet byvoeg dat ons goeie voorbereiding gedoen het om die huis en tuin so aantreklik moontlik te maak vir potensiële kopers, en alhoewel ‘n span van eiendomsagente aan die verkoop van ons huis gewerk het, was daar geen kopers wat belang gestel het om ons huis te koop nie.
Die mandaatagent se antwoord op my vraag hoekom my huis nie verkoop nie is dan ook een van dat die prys te hoog is.
Op 1 Oktober sien ek dat Adel Posthumus, ook ‘n agent werksaam onder MLS Wesrand, my huis op die internet adverteer, maar ek maak nie baie daarvan nie.
Sondagmiddag 17 November, sien ek die vrou staan voor my huis en beduie iets vir ‘n man wat by haar staan.
Ek nooi Adel en die man in, waarna sy om verskoning vra dat hulle sonder ‘n afspraak die huis besigtig.
Die huis is ook redelik deurmekaar, die kinders het die sitkamer omgekrap, speelgoed lê om die swembad en alles lyk net verkeerd, presies net soos dit nie moet lyk as iemand na die huis kom kyk nie.
Nadat Adel en die man weg is, het ek niks van die saak gemaak nie, maar die kinders goed uitgetrap omdat die huis so deurmekaar was.
Op 23 November kry ons ‘n boodskap op my vrou se foon, met die strekking “Julle huis is verkoop, groete Adel”.
Een kliënt, een week en ‘n maand en ‘n half later val ek op my rug. Waar kom jy vandaan, vrou? En om by te voeg kry ek die prys wat ek wou gehad het.
Adel, ons sê vir jou baie dankie. Wie verkoop nog huise op Sondaemiddae? Die gemiddelde mens kuier in hierdie tyd saam met vriende en familie.
Jy is werklik ‘n besondere agent en ‘n antwoord op ons gebede. Die huismark het meer agente soos jy nodig.
Mag ons Hemelse Vader jou seën en mag jy van krag tot krag gaan deur Sy kosbare Gees.
