
Ek is steeds woonagtig in Krugersdorp.
Kan ek jou ‘n paar jaar terug neem in Krugersdorp?Ek het as ‘n klein dogtertjie in 1949 na die dorp toe gekom. Daar was in daardie stadium vier bioskope in die dorp. Die spogeen met ferweelsitplekke was President, die ander een was Vaudet.
Dan was daar een naby die poskantoor waar jy, as ek reg onthou, ses pennies betaal het om die heeldag na die drie flieks te kyk, solank jou glas nie weggeneem word nie want ja, vir dié prys het jy nog ‘n koeldrank ook gekry.
Verder was daar een in Wes-Krugersdorp. Die tyd met Elvis is die karre op die sypaadjie gerock.
Dan was daar ons restaurante. Die een het agter ‘n tuin gehad waar ons na die fliek kon gaan rock ‘n roll het. Een wat nog ‘n poppe-orkes gehad het wat saam met die jukebox gespeel het oorkant Jet was Corner Lounge waar moeder getrou haar gemmerkoeldrank met roomys op Saterdae-oggend gaan nuttig het.
Agter die stadsaal was daar Saterdae ‘n mark in ‘n gebou, ook ‘n klein vis-en-tjipswinkel. Oorkant die pad was daar ook ‘n roomyswinkel. Ek onthou nog die smaak van die wit waterroomys.
Coronation Park was die mooiste blomtuin waar die bruidspare hul foto’s laat neem het, en op ‘n Sondag was daar ‘n orkes wat musiek gemaak het.
Soos jy genoem het was Bob van Reenen die middelpunt van Krugersdorp, en later jare is daar ook stoeitoernooie en fietsrykompetisies aangebied. Ons busse het elke 15 minute van die Stadsaal af na Wes-Krugersdorp vertrek, en daar het terselfdertyd een van daar af teruggery. Daar was ook busse na Silverfields en Krugersdorp-Noord, maar nie so baie nie omdat dit nie so dig bewoon was nie.
Sal ons ook nie die winteroggend vergeet toe Penny Coelen, net na sy as Mej Wêreld gekroon is, in die koue in ‘n baaikostuum Krugerdorp besoek het nie. Ou herinneringe …
