• Jeanette van Heerden skryf:
My hart is gebreek oor die berig op die voorblad van die News se 1 Oktober-uitgawe met opskrif Alles daarmee heen!
Lees artikel hier: WATCH: Homeless lose everything when Public Safety pays them a visit
Is so geskok dat daar net by die raadslid oor die haweloses gekla is. Watter wyk verteenwoordig sy?
In my geestesoog sien ek hoe sy net haar skouers optrek en sê sy het nie geweet dit gaan gebeur nie. Hoekom het sy toegelaat dat dit gebeur sonder om die mense – ja mense, nie diere nie – kennis te gee om die plek te verlaat?
Hoekom iemand se meel uitgooi op straat? Wie is die mense? Monsters?
Wie is die mense wat so baie klagtes ingedien het? Sekerlik nie die mense van Burgershoop nie, mense wat self weet hoe moeilik dit is om van dag tot dag aan die lewe te bly. Wie het regtig gekla, wie het geen simpatie met iemand wat geen ander heenkome het nie, wat nie omgee oor ‘n ander mens se kinders nie?
Waarom doen die raadslid niks om hierdie monsteragtige wreedheid reg te stel nie? Waar is die raadslid nou? Waarom kon niks gedoen word om die mense te help nie? En dit gaan nie oor ras nie. Enige persoon het die reg op ‘n bestaan, op ‘n lewe. Waarom neem die raadslid nie menseregte in ag nie, en trap daarop?
Nou gaan die artikel weggebêre word saam met soveel van dieselfde en vergeet word, en dié wat nou werklik in sak en as sit, het niks om op te tel en die volgende dag aan te gaan nie.
Wanneer raadslede klagtes kry, kan daar nie eerder aan die klaers gevra word of dit nie ook hulle gemeenskap is nie. Hoekom kla jy net, het jy dalk idees? Wees dalk deel van ‘n oplossing? Nee! Wat van ons kinders se verbrande speelgoed en mense se kos wat op die grond uitgegooi word?
Dankie raadslid vir jou waardige besluite. Hopelik is daar net een persoon soos jy in jou posisie, want ek self is al twee jaar werkloos en nou-nou besluit jy om mense te stuur om my laaste besittings te verbrand en te vernietig.
Dankie vir die berig om mense bewus te maak. Ek hoop dit bring iewers ‘n oplossing vir situasies soos dié wat gaan vererger weens werkloosheid.
