Ek stem saam met die redakteur!
‘Ek stem saam met die redakteur, die munisipaliteit RAAI die lesings. Die rede daaragter sal ek graag wil verneem van die mense verantwoordelik’ – inwoner.
• Anoniem in Krugersdorp skryf:
Aangaande die redakteur se brief met opskrif Gee my krag! die volgende …
Ek stem heelhartig saam, hoe op aarde?
Lees ook: Gee my krag!
Ons is in die (gelukkige) posisie dat my man se beroep is om met hernubare energie te werk en dit te ontwikkel en sisteme by ons huis te toets. Ons gebruik dus absolute minimale krag vanaf die munisipaliteit, die hoofskakelaar op ons verspreidingsbord is letterlik vir dae afgeskakel, m.a.w. daar kom geen kragtoevoer vanaf die munisipaliteit af deur nie. Inteendeel wek ons met tye genoeg krag op dat ons terugvoer in die munisipale rooster in.
Die rekening vertel egter ‘n ander storie. Behalwe vir die feit dat daar ook beurtkrag is waar huishoudings vir ure sonder enige toevoer sit om te kan gebruik, moet ons verbruik (die fisiese eenhede) mos drasties minder wees. Ons is nog altyd twee mense.
Ek stem saam met die redakteur, die munisipaliteit raai die lesings. Die rede daaragter sal ek graag wil verneem van die mense verantwoordelik. (Let wel, die enigste kere wat daar wel op die rekening aangedui was dat lesings nie geneem is nie – “not read” – was vir die April en Mei 2020 periodes).
Dit is onmoontlik dat ons gemiddelde verbruik wat vir 12 maande nie meer as 333kWh per maand was, en vandat ons alternatiewe energie sisteme toets (die heel begin, nie eers vandat ons die mees effektiewe sisteme het nie) nie meer as 138kWh per maand was nie, nou skielik 500 is (op die kop, mooi ronde getal).
En dit terwyl ons spesifiek van ander energie gebruik maak. Die tor het afgeval in Januarie hierdie jaar. Van daar af was die verbruik skielik ‘n ronde 400 elke maand vir 4 maande en toe skielik 500 vir die afgelope 3 maande al. Dis mos ‘n duidelike raaiskoot.
En ek verwys spesifiek na eenhede verbruik, nie die feit dat die pryse opgaan en mens se rekening vanselfsprekend dan meer geld sal kos nie (wat in elk geval ‘n skreiende skande en debat op sy eie is).

Ek spoor nie inligting op dat Mogale City inwoners hul eie lesings kan indien nie – City of Joburg het tans weer ‘n veldtog aan die gang om inwoners daar aan te spoor om van die sisteem gebruik te maak om sodoende skattings uit te skakel en in beheer van hul eie rekeninge te wees.
Ek probeer ‘n spesiale meterleesversoek rig (sodat ek by kan wees en self sien wat is die lesing en ja, dit gaan my ‘n ekstra fooi kos!), maar word verwys na ‘n nommer wat nie beantwoord word nie.
Hoe stop mens hierdie blatante uitbuiting?
g@tvol in Krugersdorp
