• Anoniem skryf:
Ek wil graag weet hoekom word daar nou toestemming gegee vir allerlei funksies in ons parke?
Goedkeuring is gegee deur al die ‘relevante partye’ en deur ons wyksraadslid, vir ‘n troue in ons parkie vanaf 13:00 to 22:00 op Saterdag, 19 November.
Klaarblyklik is toestemming verkry deur die inwoners ook, maar as ek kyk na ons WhatsApp-groepie en na Facebook-plasings, wonder ek wie het toestemming gegee.
Is ons parke nie daar vir ander redes as funksies nie? Hoekom is daar dan spesifieke trou- en partytjieplekke wat lisensies moet betaal?
Ons as buurt moes blokke ver luister na die trouemusiek en lawaai. En natuurlik was hulle nie 22:00 klaar soos beloof deur die raadslid nie, maar publieke veiligheid (Public Safety) moes uitgestuur word om hulle stil te kry, en als was eers stil om en by 22:45. Omdat iemand nie bereid is om te betaal vir ‘n plek vir ‘n troue nie, moet almal in die buurt se vrede en stilte gesteel word vir 10 ure lank?
Paragraaf 2.7.2 van munisipale regulasie stipuleer dat die parke moet oop wees of ‘n kennisgewing moet opgesit word. Ons het absoluut geen kennisgewing gesien nie. Inteendeel is ons Vrydag-middag 14:55 ingelig oor die funksie.
En nee, dit het niks te doen met live and let live nie. Wat van die mense wat nagskof werk? Wat van die mammas met babas?
Daar is redes hoekom troues en begrafnisse gehou word op seker plekke. Gaan al ons parkies nou gegee word vir elkeen se persoonlike funksie?
Wat ‘n absolute teleurstelling vanaf die Munisipaliteit en betrokke raadslede.
Dis asof Mogale City ‘n veer voel vir die dorpswet. Sies vir hulle!
Ontevrede inwoner van Kenmare.
The municipality has taken note of the complaint saying, “It has been forwarded to colleagues at Public Safety”. A follow-up letter will be published — Ed.
