Letters

BRIEF: Jou tyd is kosbaar

Pastoor daag die gemeenskap uit om ‘n lysie te maak saam met jou familie en te besluit wat julle kan afskaf om weer tyd te kan maak vir die dinge wat werklik belangrik is vir julle.

• Pastoor Kyle Tolman, Cross Connect Community Outreach (CCCO) se uitvoerende hoof skryf:

Tyd is een van die belangrikste en mees waardevolste geskenke. Oral waar ek met mense praat sê almal net hoe besig hulle is. Hoe hulle geen tyd het nie. Hulle jaag van een ding tot die volgende. Die mensdom het homself bevind in ‘n rat waar ons net aanhou hardloop en nie stop nie.

In my reis as pa het ek ‘n paar lesse by my seun geleer wat ek graag met elkeen wil deel. Die heel eerste ding is dat slaap baie belangrik is. As mens nie genoeg slaap nie dan is jou liggaam in skok en jy sukkel om daaglikse take te doen. Maak seker jy maak tyd om te rus. Ek sê pertinent ‘maak’ want dit is ‘n keuse waar ons opsetlik moet besluit om ‘n spasie te gaan skep waar ons kan rus.

Die tweede ding wat ek geleer het is dat my seun my tyd soek, wanneer ek in die middae by die huis kom dan hardloop Matthew na my toe en skreeu, ‘Pappa!’ Dit maak nie saak hoe sleg my dag was nie want op daai oomblik is alles perfek. Hy wil net in my arms wees en tyd saam met my spandeer.

Hy wil nie hê ek moet vir hom die nuutste speelding koop nie. Hy soek net my tyd. Niks anders nie. Ons kinders het nodig dat ons teenwoordig is en fokus op die hier en nou wanneer ons hierdie kosbare oomblikke met hulle het.

Die derde ding wat ek geleer het is dat daar altyd ‘n môre is. Ons is in ‘n ritme en denkpatroon waar ons dink dat alles vandag gedoen moet word. As ons nie klaar kry met ‘n taak nie dan moet ons harder en later werk. Ons moet probeer om soveel as moontlik in ‘n dag in te prop. Dit is juis hierdie denkpatroon wat ons in die moeilikheid bring. Miskien moet ons onthou dat ons môre weer ‘n nuwe dag het en dit wat ons vandag gedoen het genoeg is.

Wanneer ons konstant onsself in hierdie ritme bevind dan is daar ‘n moegheid wat ons nie eers kan beskryf nie. Dis ‘n gevaarlike spasie om te wees. Dit lui na totale uitputting van ons gees en liggaam.

‘n Lewe wat floreer verander dan in ‘n lewe wat net oorleef. Ek glo God roep ons om juis in hierdie tyd om ‘n inkeer te maak na Hom. Om kritiese vrae te vra oor ons leefstyl en hoe volhoubaar dit is. Dat ons moet gaan sit en te kyk wat ons so besig hou. Om te vra of dit regtig die moeite werd is? Om te dink wat ons kan verander en hoe ons weer ‘n pas kan handhaaf wat volhoubaar gaan wees vir die volgende 10, 20, 30 of selfs 40 jaar.

My uitdaging aan jou is om ‘n lysie te gaan maak saam met jou familie en saam te besluit wat julle kan afskaf om weer tyd te kan maak vir die dinge wat werklik belangrik is vir julle.

Mag God julle seën.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button