Letters

OPINIE: ‘Nog nooit het die dorp sò sleg gelyk nie’

Inwoner skryf 'n brief oor die toestand van die dorp en sy onlangse onsmaaklike ervarings.

• Anonieme inwoner skryf:

Gekkespul. Klug. Van die woorde wat Krugersdorp vanoggend kan beskryf.

Groot dele van die dorp sit al meer as ‘n week lank sonder water … inkluis Monument waar van ons kinderhuise is. Dank Vader vir die JoJos wat ons onlangs laat insit het … ten minste 10 000 liter se water vir drink, kook en baba-was gehad. Maar dié staan ook nou leeg se kant toe en steeds is die krane droog. Wat dan? Die kinders is almal ook al ‘bleek’ van die bad in swembadwater.

Die boorgat – seën wat dit is – se water is so vol metale (en ander goed wat ek nie eens die name van kan uitspreek nie) dat die porselein van die toilette en wasbakke afspat. Filters van 48k sal glo diè probleem oorkom … maar tans het ons nie geld om te spandeer daaraan nie. Die staat het nog geen kontrakte met geen welsynsorganisasie in die hele Gauteng geteken nie … elke sent wat ons nou het moet gaan vir kos vir die kinders tot ons weer betaal word.

Dis vroegoggend en ek is op pad na ‘n skuiling vir hawelose mans om ‘n krisis met ‘n dodelik siek inwoner te probeer beredder. Hy het kanker in sy gesig en is lelik verniel … en hy wag nou al maande lank vir ‘scans’ wat nou uiteindelik moet gedoen word, maar intussen het hy ‘n ernstige infeksie gekry in sy gesig en is opgeswel soos ‘n seekoei … voeter na die plaaslike hospitaal toe laasweek waar ook geen water was nie … en nog minder empatie.

Ek ry deur die vuil strate skuilding toe … rommel orals! Hope. Nog nooit het die dorp sò sleg gelyk nie. Smaak my toe die water afgaan het almal ophou skoonmaak ook.

Orals is daar gehuggies op die sypaadjies gebou en haweloses sit-lê, meeste nog onder hulle charity-komberse, bokse en plastiek, terwyl hulle die dag beplan … wat brêkvis by ‘n skuiling vir hawelose mans insluit.

Ek is moerig oor die gemors orals oor op die sypaadjie voor die skuiling en trap hoog om die meeste daarvan te mis. Na ‘n vinnige intervensie om ons kankerlyer uit die kooi en aangetrek te kry – hy moet by die ou Joburg Gen wees voor 8 – stoom ek uit kartoe om goed te gaan koop om die dam op die plaas te seël wat besig is om leeg te loop … en om dan betyds terug in die dorp te wees om aanlyn te baklei met die staat om die miljoene rande wat hulle klaar uit die nie-regeringsorganisasies se begroting vir die komende finansiële jaar gestroop het, te probeer terugkry … en dit alles voor teetyd.

Buite die skuiling vir haweloses mans by my kar word ek ingewag deur ‘n laaitie wie grootgeword het voor my en na jare in die skuiling nie die dinge wat by hom spook kon afskud nie. Hy soek ‘n lift na sy ouma se huis toe waar hy elke dag geld kry vir sy fix. Nee. Sorry. Ek ry annerkant toe. Jy moet maar loop. Hy dra vanoggend ‘n ridiculous helderkleurige katpak of babygrow of onesie of iets dergliks en sy hare is in ‘n manbun vasgesteek … die geklikheid van die situasie tref my skielik en ek begin lag … soveel so dat ek later nie asem kan kry nie.

Uiteindelik, hoesbui onder beheer, woerts ek dorp uit, bergaf, bergop en aanlyn. Terwyl die seun en sy katpak my by bly. A lutia continua!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button