Harlequins wys hulle tande
Die Harlequins Rugbyklub kon daarin slaag om drie tuiswedstryde te klop.

Die Harlequins en die Germiston Simmer rugbyklubs se eerste span was in ‘n taai wedstryd teen mekaar gewikkel op die Johanna Botha-park waar die Simmers heelwat geleenthede verbrou het om punte aan te teken.
Die wedstryd, wat op Saterdag 25 Mei plaasgevind het en wat skuins voor 4nm begin het, het die Simmers die geleentheid verbrou om drie punte in die eerste twintig minute van die eerste helfte aan te teken toe hulle ‘n strafskop misgeskop het.
In ‘n wedstryd waar daar ‘n tekort aan aksie was en meestal punte deur strafhantering uitgedeel is, het die Harlequins daarin geslaag om eerste punte aan te teken toe ‘n strafskop oor die pale deur is, gevolg deur die Simmers wat ook ‘n strafskop toegeken is en die punte van drie geëwenaar het.
Die eerste drie is deur die Simmers gedruk en die doelskop is deur die pale, gevolg deur ‘n strafskop wat enkele minute voor die fluitjie vir die einde van die eerste helfte sou blaas ook aan hulle toegeken is, maar selfs dit was mis.
Gedurende die tweede helfte het die Harlequins hulle sokkies opgetrek en het die stof letterlik gespat.
In die eerste sowat vyftien minute het Hennie Cordier met trots oor die doellyn gehardloop en ‘n drie in Harlequins se guns gedruk en was die punte op die puntebord 10 teen 13 met die Harlequins in die voortou.
Sowat tien minute later is nog ‘n drie deur die Harlequins se Riaan Smith gedruk en het Johan Kruger die punte verder versterk deur ‘n susksesvolle doelskop tussen die pale deur.
Toe die eindfluitjie aan die einde van die 80 minute geblaas is het die Harlequins met 20 teenoor 10 teen die Simmers geseëvier.
Bokkie Keulder, die waarnemende afrigter vir die Harlequins wat reeds vir sowat ses jaar deel is van die Leeus se amateurrugby erken dat die eerste span gedurende die eerste helfte nie als ingesit het nie.
“Die Germiston Simmers was gereed om ons aan te vat en dit is vir ons ‘n kompliment dat ons hulle kon ore aansit, want in die vorige wedstryd het hulle dit wel reggekry.”
Hy sê die tweede helfte was die spelers goed opgewarm en het hulle die veld oorheers.
“Ek dink die rede daarvoor was dat dit ‘n ruk geneem het om ons wedstryd plan vir hierdie wedstryd in werking te kon kry.”
Hy het ook gerugte verwerp dat die klub in die moeilikheid is.
“Eintlik groei ons elke keer net groter, maar daar is wel dinge wat ons nodig het om ons volle potensiaal te kan bereik.”
Puntetellings van die ander wedstryde wat deur die dag gespeel is:
• Onder 20: Harlequins 22 en Germiston Simmers 5
• Tweede span: Harlequins 29 en Germiston Simmers 3