Harlequins dring deur na semifinaal
Twee spanne van Harlequins Rugbyklub gaan sake vir 'n plek in die eindstryd uitspook.
Die Harlequins Rugbyklub se eerste- en tweedespanne het vir hulle ‘n plek in die semifinaal oopgespeel nadat hulle op Saterdag 6 Julie die kwarteindwedstryde van die Senior Groot Uitdaagreeks gewen het.
Bokkie Keulder, die waarnemende afrigter vir Harlequins sê dat die Fochville Titans taai opponente was, maar hulle kon daarin slaag om die oorhand te kry.
“Die laaste dertig minute van ons wedstryd het die wedstrydplan vir die eerste keer vanjaar werklik in plek geval en dit was vir ons besonders.”
Harlequins het uiteindelik met 91 teenoor die Titans se 0 geseëvier.
Tydens die eerste helfte het Harlequins sewe drieë gedruk waarvan drie doelskoppe mis was, en in die tweede helfte het hulle agt drieë gedruk en vier doelskoppe gemis.
Die Titans het in die hele wedstryd slegs twee keer die geleentheid gehad om punte aan te teken toe hulle strafskoppe gekry het, maar die skopper het albei verbrou.
Breda van Schoor, die kaptein van Harlequins was die man van die wedstryd.
Bokkie sê hulle sien daarna uit om in die semifinaal op hulle tuisveld met Johannesburg Polisie kragte te meet.
Die tweedespan wat ook vir Johannesburg Polisie die stryd gaan aansê vir ‘n plek in die finaal het Alexandra met 70 teenoor 0 geklop.
Ends/…
