Local sportSport

Skopstryd om SA titel by Silverstar

Twee Wes-Randse skopboksers sê mekaar die stryd aan.

Twee Wes-Randse skopboksers gaan mekaar met skoppe die stryd aansê om te sien wie met die Suid-Afrikaanse Ligswaartitel kan wegstap.

Ek gaan nie terugsit en kyk hoe my titel wat ek reeds twee keer vantevore verdedig het, sommer net so van my weggevat word nie.

Eugene van der Merwe (18) van die Mile High Kickboxing Klub in Randfontein gaan die verdedigende kampioen Jeremia Jet Lee Makhetha (35) van die Krugersdorp Kickboxing Klub vir sy titel uitdaag.

Jeremia wat reeds met die titel as die Suid-Afrikaanse amateur-skopbokskampioen spog, en daarna jare se ervaring as ‘n professionele skopbokser opgedoen het, sê hy is nie bereid om sy titel op ‘n skinkbord weg te gee nie.

Hierdie geveg, bestaande uit vyf rondtes van drie minute elk en ‘n minuut se rus tussenin, dra hy aan sy dogter Teboho (10) op.

“Ek gaan my als insit om haar trots te maak en ek gaan nie terugsit en kyk hoe my titel wat ek reeds twee keer vantevore verdedig het, sommer net so van my weggevat word nie. Al wat ek wel kan sê is: laat die beste man daardie dag wen.”

Shihan Mositho Mphaphathi sê hy is trots dat Jeremia van sy klub is en dat dit ‘n bewys is dat kampioene nog uit Krugersdorp kan kom.

“Dit gee die indruk dat ons as ‘n klub iets reg doen en nog met ander klubs kan kompeteer. Dit gee ook daardie knypie inspirasie vir ons jonger geslag skopboksers dat as hulle alles insit, hulle ook sukses kan behaal.”

Die Sapmac 1st Challenge om die titel vind op Saterdag 27 Julie by Silverstar Casino plaas. Die deure maak om 5nm oop en kaartjies vir die geveg, sowel as ander gevegte kos R100 per persoon en sal by die deur te koop wees.

Lees môre 21 Julie wat Eugene oor die uitdaging te sê het.

Back to top button