Local sportSport

Quins dring deur na finaal

Harlequins Rugbyklub se eerste- en tweedespan het na die finaal deurgedring.

Drie Krugersdorpse rugbyspanne het Saterdag 13 Julie sake in die semifinaal van die Senior Groot Uitdaagreeks uitgespook waarna twee spanne na die finaal deurgedring het.

Ses spanne het op dié dag by die Johanna Botha Sportkompleks gespeel.

Harlequins Rugbyklub se eerste- en tweedespanne het met Johannesburg Polisie, ook bekend as Bobbies, kragte gemeet en gewys dat hulle vir niemand terugstaan nie.

Khosa Rugbyklub se onder 20-span het met alle mag probeer om die Universiteit van Johannesburg te troef, maar moes met ‘n nederlaag tevrede wees.

Gedurende die eerstespan-kragmeting tussen Quins en Bobbies het Bobbies die eerste punte deur middel van ‘n strafskop aangeteken, gevolg deur ‘n strafskop deur Quins, maar die eerste drie is deur Quins gedruk waarvan die doelskop mis was.

Reeds in die eerste helfte het albei spanne se stresvlakke die hoogte ingeskiet en het die humeure telkens opgevlam, maar Bobbies het die telbord oorheers met 20 teenoor Quins se 8 toe hulle reeds met vyf strafskoppe geslaag het en ‘n drie gedruk het, waarvan die doelskop mis was.

Tydens die tweede helfte het Quins weer daarin geslaag om eerste ‘n drie te druk, waarvan die doelskop dié keer tussen die pale deur is.

‘n Strafskop wat etlike minute later aan Quins toegestaan is was mis, maar hulle het vinnig daarvoor vergoed deur ‘n welverdiende drie te druk.

Die telling was toe 22 teenoor 20 in Quins se guns, maar is gou deur Bobbies verander toe hulle met ‘n strafskop geslaag het.

Daarna het beide die spanne hulle strafskoppe verbrou.

Die laaste tien minute van die wedstryd was dit klipharde rugby met Quins wat hard baklei het om nog punte aan te teken. Hulle het toe die geleentheid gekry om die laaste punte deur middel van ‘n strafskop aan te teken wat die telbord op 25 teenoor 23 laat bly het. Quins het só vir hulle ‘n plek in die finaal oopgespeel.

Bokkie Keulder, die waarnemende afrigter van Harlequins het na afloop van die wedstryd gesê dat die telling eintlik groter moes wees.

Hy sê dat Bobbies ‘n sterk opponent was wat die wedstryd moeilik gemaak het.

“Ons het ook baie onnodige foute gemaak omdat ons oorgretig was vir ‘n oorwinning.”

“Afgesien daarvan is dit altyd lekker om te weet dat al die spelers als ingesit het om hierdie wedstryd te wen. Hulle was ook altyd by die oefeninge en nou pluk ons die vrugte daarvan.”

Die tellings van die ander rugbyspanne was soos volg:

• Harlequins se tweede span het met 22 teenoor Bobbies se 17 geseëvier.

• Khosa moes die knie buig met 22 teenoor die Universiteit van Johannesburg se 29.

Vir meer foto’s oor dié dag se rugbyaksie besoek die galery.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button