Local sportSport

Lekker staproetes vir Augustus

Stof af jou stapskoene en haal uit jou hoed.

Die Krugersdorpse Stapklub beplan twee lekker staproetes vir Augustus.

Die eerste roete in die Botaniese Tuin word vir 10 Augustus beplan.

Dit is seker een van die mooiste roetes want daar is nie net staproetes nie, maar moontlik die enigste waterval in Suid-Afrika wat besoekers te voet kan bereik. Die tuine word pragtig in stand gehou, en mens kan kruis en dwars op die wandelpaadjies daardeur stap. Die arende se nes kan ook gesien word wanneer hulle sirkel om te land. Stappers kan ook na die dam toe afstap waar daar ‘n uitkykpunt is om die voëls dop te hou wat kom water drink, en waar die eende sirkels op die water maak.

Hier is genoeg wandelpaadjies wat stappers vir ‘n hele rukkie kan besig hou, en mens kan altyd jou dors gaan les by die restaurant.

Mens kan met die baie steil trappies tot bo, by die waterval uitklim, van waar die rivier sigbaar is. Van daar af word die lekker steil kop uitgeklim tot bo-op die berg waar ‘n pad die stappers om die koppe neem en terugbring Tuin toe. Hierdie is ‘n matige stap, met net af en toe ‘n uitdaging teen die koppies uit.

Die volgende roete by Mountain Sanctuary is vir 17 Augustus beplan.

Hierdie roete is eintlik ‘n moet vir elke stapper wat van ‘n uitdaging hou! Dit het pragtige rotsformasies. Daar word al met ‘n spruit opgestap wat ook heerlike poele water het waarin geswem kan word (alles hang natuurlik van die reënval af) tot by ‘n grot met ‘n klein waterval waar ‘n moeë stapper lekker kan rus. Verder word daar na die diep kloof gestap met sy pragtige kranse, watervalle en swempoele wat selfs ook ‘n gly-klip het wat baie gewild is onder die jonges. Alles is prentjie mooi, en na die stap kan stappers selfs van hul mooi swembad en baie braaigeriewe gebruik maak.

Vir meer besonderhede oor die stapklub en roetes, skakel vir Phillip of Babsie by 083 788 4555 of 083 544 1102.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button