Local sportSport

Bokser smag na Argentyn se titel

Ryno 'The Lion' Liebenberg (29), 'n professionele bokser van Krugersdorp wil 'n derde titel hê.

Ryno The Lion Liebenberg (29), ‘n professionele bokser van Krugersdorp oefen dat dit klap om die WBC Internasionale Silwer Ligswaar titel op 31 Augustus by Emperors Palace in Kempton Park by sy lys van titels te voeg.

Ryno, wat sedert Julie 2010 professioneel boks, is tans onoorwonne na 12 gevegte waarvan hy agt met uitklophoue gewen is.

Dié trotse draer van die IBO All Africa en IBO Intercontinental ligswaartitels sê hy oefen vier uur lank ses dae ‘n week en sien daarna uit om die Argentyn Gabriel Ramirez van sy WBC International Silwer Ligswaartitel te stroop.

Hy sê indien hy hierdie titel kry, sal hy een van die top 15 professionele boksers in die wêreld wees waarna hy hard gaan oefen om aanstaande jaar die wêreldtitel te probeer verower.

Oor sy suksesse in sy professionele loopban vertel hy met trots hoe hy vir Tshepang Mohale, ‘n gewese Suid-Afrikaanse Ligswaarkampioen in sy vyfde professionele geveg in die sesde rondte platgeslaan het.

‘n Ander mylpaal vir hom was toe hy in ‘n bloedige geveg om ‘n vakante titel met Roodepoort se Johnny The Hurricane Muller afgereken het om sy tweede titel te verower.

Hierdie voormalige amateurbokser van die Krugersdorp Amateur Boksklub het die volgende wenke vir boksers wat in sy voetspore wil volg.

“Oefen hard, dit is die eerste ding wat my pa Izak (voorheen ook ‘n amateurbokser) my geleer het. Dan moet jy ook ‘n skoon lewe lei sonder drank, sigarette en partytjie – as jy suksesvol wil wees moet jy boks eerste stel.”

Ryno sê ook dat boksers nooit moet vergeet waar hulle vandaan kom nie.

“Ek kuier nog gereeld by die Krugersdorp Amateur Boksklub omdat my bokstalent hier geslyp is.”

Hy sê hy glo hy kon nog groter sukses behaal het as hy van die begin af geweet het hy gaan in boks uitblink.

“Ek was dertien jaar oud toe ek begin boks het. Ek het vier jaar lank as ‘n amateur geboks en het op 17-jarige ouderdom opgehou nadat ek in ‘n motorfietsongeluk betrokke was.”

Hy sê hy was 23 jaar oud toe hy besluit het om weer amateurboks vir die pret te beoefen, waartydens hy aan Suid-Afrikaanse en nasionale kompetisies en proewe deelgeneem het.

Maar toe hou hy weer op en in 2010 het hy besluit om uit nuuskierigheid te kyk hoe hy as prfessionele bokser sal vaar, “want ek het niks gehad om te verloor nie”.

Ryno, wat bedags by ‘n familiebesigheid in Cresta werk, sê hy is dankbaar vir die ondersteuning wat hy van sy familie en veral van sy gesin af kry.

“My vrou Chantelle staan bankvas agter my.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button