Bokke troef Poemas met 73 – 13
Dit was vir die Bok-ondersteuners 'n soete oorwinning toe die Springbokke die Poemas van Argentinië in 'n Castle Lager Rugby Kampioenskap-wedstryd geklop het.
Dit was ‘n soete oorwinning vir die Springbokke op Saterdag 17 Augustus toe hulle die Poemas van Argentinië met 73 teenoor 13 in ‘n Castle Lager Rugby Kampioenskap-wedstryd geklop het.
Dié toetswedstryd, wat op die FNB-stadion in Soweto gespeel is, was deel van die Nelson Mandela Sport- en Kultuurdag om geld vir die Nelson Mandela Kinderhospitaal in te samel.
Die rugbygees is self by die Silverstar-casino se Absa Boktown in Muldersdrift gevoel toe geesdriftiges en ondersteuners uitgedos in rugbytruie en geverfde gesigte gekom het om die Bokke die ondersteuning te gee wat hulle verdien.
‘n Groot skerm en verskeie ander televisiestelle se hoëdefinisie-uitsendings het seker gemaak dat ondersteuners nie ‘n oomblik van die aksie mis nie – selfs wanneer ‘n vinnige keelnatmakertjie gekry moes word.
Elke keer as die Bokke nader aan die doellyn gekom het, is die tande behoorlik gekners en wanneer dit lyk of ‘n drie wel gedruk is, was die opgewondenheid beslis ‘n hoendervleisoomblik soos die ondersteuners hulle vreugde met mekaar gedeel het.
Wat hierdie wedstryd nog meer pret by Silverstar se Absa Boktown gemaak het, was dat ondersteuners die geleentheid gehad het om ook tussendeur met ‘n paar pryse weg te stap.
Die steltlopers het die kinders vermaak met hulle toertjies en die ballondiere wat hulle gemaak het.
Rugbyondersteuners het beslis die Bokke se vertoning op die veld geniet terwyl hulle die telbord bly voer het en die Poemas aanhoudend die sweet van hulle voorkoppe moes afvee.

Voor die wedstryd moes die Poemas se kaptein en agtsteman Juan Fernandez Lobbe onttrek en nog ‘n slag vir hulle was toe die voorspeler Patricio Albacete na ‘n besering van die veld af is.
Hulle moes ook vir twintig minute met sewe voorspelers op die veld klaarkom toe die skeidsregter Chris Pollock geelkaarte aan Eusebio Guinazu en Leonardo Senatore uitgedeel het.
Die Poemas kon met hierdie wedstryd slegs twee strafskoppe asook ‘n troosdrie aanteken, terwyl die Springbokke reeds met halftyd met 26 teenoor 6 voorgeloop het. Toe die eindfluitjie blaas het die Springbokke ‘n verstommende wentelling van 73 teenoor 13 gehad.
Hierdie wedstryd het Suid-Afrika die topposisie op die puntelys besorg met Nieu-Seeland kort op hulle hakke.
Of die Bokke hulle spogvertoning kan herhaal wanneer hulle op Saterdag 24 Augustus weer teen die Poemas maar dié keer in Argentinië te staan kom, sal net die tyd ons leer.

