Stap die heerlike lente binne
Groenkloof en Kings Kloof word hierdie maand deur die Krugersdorp Stapklub stappers aangepak.
Dis heerlike lente en die Krugersdorpse Stapklub bied twee opwindende staproets vir September aan.
Op 14 September word Kings Kloof beplan.
Hierdie is ‘n nuwe roete vir die klub. Die roete is grotendeels agter die berg, naby Oaktree. Toegangsfooi is R30 per persoon en motors word veilig agter ‘n hek parkeer. Daar word eers in die rigting van die berg gestap, maar al lyk dit aanvaklik ver, is dit ‘n maklike gelyk stap verby ‘n plaasdam waar daar ook kleedkamers is. Daar word al langs die spruitjie in die rigting van die berg gestap tot by die waterval. Dit is werklik ‘n fantastiese roete en ‘n plesier om te stap, maar daar is geen bome langs die pad vir skuiling as dit baie warm word nie. Water en ‘n hoed sal dus baie noodsaaklik wees.
Op 21 September word Groenkloof aangepak.
Dit is een van die klub se gunsteling staproetes wat langs die Pretoria-tuine in die nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ‘n pragtige roete met ‘n effense moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ‘n bonus. Daar is verskillende rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas – ‘n fees vir die oog.
Veral kinders geniet hierdie roete baie. Die omgewing is baie mooi en is bedoel vir diegene wat ‘n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op die staproetes nie. Jy kan nog ‘n trein onder sien verby ry en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net aan die begin van die roete. Hulle het ‘n mooi piekniekterrein waar geparkeer word, en daar word gewoonlik ‘n vleisie gebraai as daar klaar gestap is.
Skakel gerus vir Phillip of Babsie by 083 788 4555 of 083 544 1102 vir meer besonderhede.
