Local sportSport

Dié leeu gaan lê nie in die kryt nie

Ryno Liebenberg is nie verniet bekend as 'The Lion' nadat hy daarin geslaag het om die Argentyn, Gabriel Ramirez van sy internasionale titel te stroop.

Weke se harde werk, sweet en voorbereiding het vir Suid-Afrika se professionele bokser, Ryno The Lion Liebenberg nog ‘n titel in die sak besorg.

Ryno mik nou vir internasionale bokstitels aangesien hy al die Suid-Afrikaanse titels in die ligswaar-kategorie op sy kerfstok het en het die Argentyn, Gabriel Ramirez op 31 Augustus by Emperors Palace in Kempton Park van sy WBC Internasionale Silwer Ligswaartitel gestroop.

Dié geveg wat gewoonlik uit twaalf rondtes bestaan, is reeds na een minuut en 58 sekondes in die eerste rondte gestaak toe Ryno vir Gabriel met ‘n uitklophou wen.

“Ek was nogal geskok toe die geveg so gou verby is, want ek het gedink dat daar oorlog in die kryt sou wees.”

Tans het hy ook die IBO All Africa en IBO Intercontinental ligswaartitels agter sy naam en hy sê dat hy nou nog harder gaan werk om aanstaande jaar ‘n wêreldtitel te oes.

Toe hy onlangs weer ‘n draai maak by sy amateurklub in Krugersdorp het die boksers wat daarvan droom om in sy voetspore te volg met bewondering na sy titels gekyk en wou saam met hom poseer vir foto’s.

Een van sy eerste afrigters, Aleke Ouboet Gouws sê hy onthou hom as ‘n ‘bedonnerde stout maergat’ wat nie net ‘n bokser was nie, maar ‘n vegter.

“Hy het nie teruggestaan vir enigiemand nie en hoe groter sy opponent was, hoe groter was die uitdaging om sy opponent plat te slaan.”

Hy sê as hy oor hom in die koerante lees en hy sê dat hy van Krugersdorp kom dan borrel sy hart oor van trots.

“Ten spyte van sy suksesse kom hy altyd terug na sy amateurklub en dit maak my trots omdat hy steeds weet waar sy wortels lê.”

Ryno se pa, Izak wat deesdae van oor tot oor glimlag oor sy seun se prestasies, wou aanvanklik nie gehad het dat sy seun by boks betrokke moes word nie al was hy self ‘n amateurbokser by die Krugersdorp-Wes Amateur Boksklub.

“Vandag is ek baie trots op hom, want boks is in ons familie.”

Ryno gaan in die begin van volgende jaar vir die eerste keer buite Suid-Afrika boks wanneer hy in Monte Carlo, Frankryk teen ‘n opponent, wie nog nie bekend gemaak is nie, gaan boks.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button