Nuwe seisoen, nuwe staproetes
Somtyds moet jy ook maar teen die hoë rotse uit klouter, maar dit bied 'n uitdaging aan elke stapper wat die natuur in al sy vorms lief het.
Skop die nuwe seisoen af op ‘n opwindende, verfrissende manier.
Die Krugersdorpse Stapklub bied vir Oktober twee staproetes aan wat sal sorg dat die winterkwale vinnig agtergelaat word.
Die eerste stap vind op 12 Oktober plaas by Kloofendal.
Stappers beskryf hierdie roete as gemaklik, lekker, pragtig en veilige roete, want van al die nabye roetes, is hierdie stap werklik ‘n ontspanning vir siel en liggaam.
Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker. Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af – maar nie regtig hoog nie – en al is dit in die middel van die woongebiede, is dit tog afgesonder, rustig en baie mooi.
Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op elke roete. Dit is gratis om daar te gaan stap, en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat die roete nie geniet nie.
Dus, vir eerste veldstappers, hierdie is ‘n uitstekende geleentheid om tog die veld te geniet, naby die huis en in ‘n pragtige omgewing, wees welkom om by ons aan te sluit.
Volgende is Kranskloof op 19 Oktober.
Die roete is naby ATKV Buffelspoort-vakansieoord, en klimaatsgewys omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken. Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens tydens die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap. Maar dan draai die stappers links en is skielik in die kloof.
Wat ‘n aangename verrassing! Skielik is jy in die allermooiste omgewing – kranse, water, rotse, noem dit, dis daar.
Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon en daar is selfs ‘n grot of twee. Al is dit rotsagtig, is daar baie plek om gemaklik te kan stap. Somtyds moet jy ook maar teen die hoë rotse uit klouter, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke stapper wat die natuur in al sy vorms lief het. As jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom terug”.
Vir verdere inligting oor die stapklub en hul roetes, skakel vir Babsie of Phillip by 083 788 4555 of 083 544 1102.
