Editor's choiceLocal sportSport

Stap sommer lekker saam

Twee staproetes lê vir November maand voor.

Dis somer en lekker warm en die Krugersdorpse Stapklub bied twee verfrissende staproetes vir November aan.

Die eerste staptog vind by die Botaniese Tuin op 9 November plaas.

Dit is seker een van die mooiste roetes en boonop moontlik die enigste waterval in Suid-Afrika wat stappers te voet kan bereik. Die tuine word pragtig in stand gehou, en mens kan kruis en dwars op die wandelpaadjies daardeur stap. Die arende se nes kan ook gesien word, terwyl jy hulle dophou terwyl hulle sirkel om te land. Stappers stap ook af na die dam toe, waar daar ‘n uitkykpunt is om die voëls dop te hou wat kom water drink, of te kyk hoe die eende sirkels op die water maak. Hier is genoeg wandelpaadjies wat stappers vir ‘n hele rukkie kan besig hou, en mens kan altyd jou dors by die restaurant gaan les.

Mens kan met die baie steil trappies tot bo by die waterval uitklim, van waar die rivier sigbaar is. Vandaar word die lekker steil kop uitgeklim tot bo-op die berg waar ‘n pad die stappers om die koppe neem en terugbring Tuin toe. Hierdie is ‘n matige stap, met net af en toe ‘n uitdaging teen die koppies uit.

Volgende word daar by Hennops op 16 November gestap.

Hierdie is ‘n baie gewilde roete, redelik lank, sowat 15 kilometer, met baie uitdagings vir die avonturier.

Daar word met ‘n sweefkarretjie oor die rivier gery, dan word daar met ‘n leer afgegaan na ‘n grot wat skuiling bied teen wind en weer. Daar word oor koppe en klowe gestap, en wild kan ook gesien word. Goeie stapskoene en genoeg water (en energiestafies) is ‘n moet vir hierdie stap. ‘n Bedrag van R45 word vir volwassenes gehef. Die omgewing is pragtig en die roete was nog altyd goed versorg. Dit is ‘n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié wat net eenvoudig ‘n goeie wegbreek en ‘n hele oggend in die rustige, pragtige natuur wil geniet.

Vir meer inligting oor die klub en hul roetes, skakel vir Babsie of Phillip by 083 788 4555 of 083 544 1102.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button