Tennisafsluiting voor eksamens
Met die eksamens wat begin het, het die Krugersdorp Tennisklub 'n laaste bederfie gesorg vir hulle lede.
Met die eksamens wat reeds begin het by skole, sal rusgeleenthede en tyd vir buitemuurse aktiwiteite heel waarskynlik vir eers opsy gesit moet word.
Daarom het die Krugersdorp Tennisklub besluit om vir ‘n laaste bederfie sy lede te nooi om deel te wees van ‘n ouer-en-kind-tennistoernooi afsluiting, want sodra die neuse in die boeke gaan wees gaan ouers ook nie gou ‘n geleentheid kry om tyd met hulle kinders te spandeer nie.
Hennie Kruger, voorsitter van die klub sê dat dit die ideale geleentheid was vir ouer en kind om ‘n bietjie liggaamsoefening en suurstof na die brein te kry.
“Wanneer ‘n mens tennis speel het jy ‘n meer gesonder lewe want dit gee ‘n mens nie net oefening nie, maar dit verlig ook stres.”
Die toernooi is in ‘n rondomtalie-formaat gespeel en verskeie pryse, geborg deur TopSpin Suid-Afrika, is aan die spelers uitgedeel.
Na afloop van die toernooi is daar heerlik om ‘n braaivleisvuur gekuier.
