Afrigters bereik groot hoogtes
Twee afrigters van Hoërskool Noordheuwel laat hulle skool oorborrel van trots.
Hoërskool Noordheuwel borrel oor van trots met die nuus dat twee van hulle afrigters, Marius Swanepoel en Martin Daniel, groot mylpale bereik het.
Marius, wat al voorheen betrokke was by die onder 18 Akademierugbyspan en die onder 16 Grant Khomo-rugbyspan kan nou die titel as die onder 18 Cravenweek se agterlynafrigter ook op sy kerfstok plaas. Hy sal dié pos vir twee jaar beklee.
Martin is al twee dekades lank ‘n hokkieafrigter en is weer as die Nasionale Voorsitter van Dogtershokkie in Suid-Afrika verkies.
Vir albei die afrigters is ‘n belangrike fokuspunt die feit dat hulle die kennis wat hulle verwerf met hulle atlete by die skool sal kan deel.
“Dit is ‘n groot prestasie vir die skool en ek sien daarna uit om iets te leer wat ek dan aan die atlete by die skool kan oordra. Ons atlete sal dus op die voorpunt van afrigting wees,” sê Marius.
Martin sê daar was verskeie struikelblokke die afgelope jaar, maar dit was niks wat nie oorkom kon word nie.
“Volgende jaar sal weer sy eie uitdagings hê, maar ek is seker dat dit beter met hokkie by Hoërskool Noordheuwel sal gaan.”
Hy verwys in besonder na die nuwe astrobane wat aanstaande jaar by skool gebou sal word.
“Die dae toe kinders net op ‘n grasveld hokkie gespeel het, is verby, want die toekoms vir hokkie het so verander. Leerlinge wat op gras speel, gaan agterbly. ‘n Astro bied soveel meer moontlikhede.”
Wanneer beide Marius en Martin nie besig is om die sport waarvoor hulle lief is te bevorder nie, ontspan hulle by die huis.
“Ek hou natuurlik daarvan om sport op televisie te volg, want ek put groot genot daaruit,” sê Marius, wat ook ‘n getroue Blou Bul-ondersteuner is.
Martin sê hy hou daarvan om gesinstyd saam met sy vrou en kinders te spandeer.
