Nuwe ligte om rugbyspel te verbeter
Jare lank het die Khosa Rugbyklub gesukkel omdat hulle nie behoorlike ligte gehad het wanneer hulle saans geoefen het nie, maar daardie dae is nou geskiedenis.
Die Khosa Rugbyklub is slaggereed om van hierdie jaar se seisoen ‘n sukses te maak.
So reken Ashley Slater, die spelersverteenwoordiger vir die rugbyklub, nadat die klub ses stelle spreiligte vir hulle oefenvelde ontvang het.
Hierdie ligte is gesamentlik deur die Khosa Sportklub en Krugersdorp High School geborg en sal saans die veld verlig wanneer die spelers op die veld oefen.
Ashley sê die rugbyklub het vier jaar gelede reeds die strukture vir die ligte gekry, maar dat die kabels, ligte en transformator wat hulle intussen gekry het verlede jaar in die middel van hulle seisoen gesteel is.
Die koste om dit te laat vervang sou sowat R350 000 wees.
“Die ligte wat ons gekry het, is volgens die Boksmart-regulasies. Boksmart beywer hulle daarvoor om veiligheid onder rugbyspelers te bevorder en hierdie ligte sal dus help dat die rugbyspelers se oefenomstandighede beter is.”
Die klub sê nuwe spelers is steeds welkom om elke Dinsdag en Donderdag om 6.30nm op die rugbyvelde van Krugersdorp High School by hulle aan te sluit.
Die eerste wedstryde van die Khosa Rugbyklub vind reeds vanaf 2.30nm op hulle tuisveld plaas.
Vir meer inligting oor hoe om deel te word van dié rugbyfamilie kan Richard de Villiers by 072 868 5802, André Leach by 083 652 0616 of Rudi Schutte by 082 527 9862 gekontak word.
