Vrouehengelaar reg vir kompetisie
'n Vrouhengelaar van Krugersdorp-Wes, wat tweede in Gauteng is, sien daarna uit om aan 'n Suid-Afrikaanse hengelkompetisie deel te neem.
Wanneer ‘n mens by die Vorsters se huis in Krugersdorp-Wes instap, is dit duidelik dat ‘n liefde vir hengel hier seëvier.
Daar is onder andere modelbote, viskoppe teen die mure sowel as hengelmedaljes en -toekennings wat ‘n aanduiding is dat hulle daarvan hou om op die water omring deur ‘n verskeidenheid van visse te wees.
Miena, die vrou van dié huis, neem van 29 Maart tot 4 April aan die die vroue-afdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ligtegerei Boothengel Kampioenskap by die Bloemhof Dam in die Vrystaat deel.
“Dit is ‘n strawwe kampioenskap en die bestes uit vyf provinsies gaan daar met mekaar meeding.”
Sy verduidelik dat deelnemers elke dag agt uur lank op die boot gaan wees en elkeen net met twee visstokke mag hengel.
Daar word veral gekyk na hoeveel visse per dag gevang word. Hierdie getalle word aan die einde van die kampioenskap per deelnemer opgetel om ‘n wenner te bepaal.
Verlede jaar het Miena ook aan die kampioenskap deelgeneem wat in Port Elizabeth gehou is, en sê dat sy algeheel sewende geëindig het.
“Dit was vir my ‘n baie vreemde maar lekker ervaring omdat ek nie aan seewater gewoond is nie, so ek moes omtrent kophou.”
Sy vertel dat hierdie soort kompetisies ook help om op die nasionale ranglys vir vrouehengelaars te vorder.
“Met elke kompetisie skuif ‘n mens op dié ranglys op en na daardie kompetisie was ek 34ste. Ek wil graag daarop verbeter.”
Miena wat tans die tweedebeste vrouehengelaar is, sê dat sy baie na die hengelkampioenskap uitsien.
“‘n Mens leer altyd iets nuut en vir my is dit baie lonend.”
Sy vertel dat sy van jongs af met hengel te doen gekry het.
“As kind het ek gereeld saam met familie gaan hengel en dit begin geniet. Dit het toe my passie geword.”
Sy erken dat hengel ‘n baie duur sport is om te beoefen, maar dat dit beslis die moeite werd is.
