Professionele boksers inspireer ander
Twee Suid-Afrikaanse boksgeeste Ryno Liebenberg en Hekkie Budler van die Wes-Rand het onlangs verskeie jong boksers geïnspireer.
Die oë het omtrent van opgewondenheid geblink toe verskeie jong boksers van die Krugersdorp-Wes Amateur Boksklub die geleentheid gekry het om nie net ‘n foto saam met hulle rolmodelle te laat neem nie, maar ook om met hulle te kon gesels en handtekeninge te vra.
Ryno The Lion Liebenberg en Hekkie The Executioner Budler, twee professionele boksers van die Wes-Rand het onlangs by dié klub in Moorcroftstraat besoek afgelê en ook gewys dat harde werk, uithouvermoë en toewyding tot sukses kan lei.
Ryno, wat as ‘n bokser by hierdie bokslub geslyp is en as ‘n professionele bokser dit kon regkry om verskeie titels agter sy naam te voeg, sê dit is vir hom lekker as hy na sy wortels terugkeer en ‘n inspirasie vir ander kan wees.
“Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, as jy hard werk om jou drome waar te maak dan sal dit gebeur.”
Hy sê hy self het nog talle drome wat hy hoop om waar te maak.
“Ek sal graag onder die top 10 vir ligswaargewigboksers in die wêreld wil wees en ek hoop om dit binnekort te bereik.”
Ryno sal in Julie aan Golden Gloves Promotions se Super 6-bokstoernooi deelneem om in aanmerking te kom vir prysgeld van R1,6 miljoen.
“Die ses beste professionele boksers in die ligswaarafdeling van regoor Afrika gaan met mekaar meeding en om seker te maak dat ek reg is vir hulle begin ek nou reeds daarvoor oefen en my alles insit.”
Hekkie, wat as amateurbokser by die Witpoortjie Amateurboksklub begin het en later by die Booysenspark Amateurboksklub aangesluit het, sê boks het hom gekies omdat hy nie in spanverband aan sport kon deelneem nie.
“Maak nie saak of jy jou alles in ‘n span gegee het nie, as die hele span verloor, verloor jy saam. Daarom is dit vir my lekkerder om individueel deel te neem waar ek weet ek kan my alles insit en bo uittroon.”
Hy was vir agt jaar lank ‘n amateurbokser voordat hy as ‘n 19-jarige in 2007 met sy loopbaan as professionele bokser begin het.
In sy professionele boksloopbaan het hy al 26 gevegte in die kryt gehad waarvan hy tot dusver net een geveg verloor het.
Dié strooigewig-kampioen wat selfs ‘n rits titels agter sy naam kon voeg, vertel dat daar ‘n groot verskil tussen amateur- en professionele boks is.
“Die oefening en voorbereidingswerk is baie hard. Ek oefen ses dae per week.”
Hy sê sy raad aan jong boksers wat streef om so suksesvol soos hy te wees, is om in hulself te glo.
“Wanneer jy glo dat jy dit nie kan doen nie of dit nie as bokser gaan maak nie, dan sal dit so gebeur.”
