Local sportSport

Boksers oes vyf medaljes in

Twee Krugersdorpse Amateur Boksklubs het daarin geslaag om vyf medaljes huis toe te bring tydens die Suid-Afrikaanse Bokstoernooi.

Ses amateurboksers het Krugersdorp trots gemaak toe hulle onlangs aan die Suid-Afrikaanse Amateur Bokstoernooi (SA’s) in Pretoria deelgeneem het.

Hierdie span boksers van die Krugersdorp-Wes en Avanté Amateur Boksklubs het twee silwer- en drie gouemedaljes huis toe gebring.

Pieter Matthews, een van die afrigters, sê dit ‘n groot prestasie dat die boksers soveel medaljes gewen het.

“Uit al die boksklubs in Suid-Afrika het Gauteng vyf kampioene opgelewer, waaronder drie van hulle lede van die Krugersdorp-Wes Amateur Boksklub is.”

Hy sê die gehalte en standaard van die gevegte tydens die toernooi het deur die jare baie verbeter.

Vir Bianca van Rhyn (14) van Avanté Amateur Boksklub was die ervaring wat sy tydens haar eerste SA’s opgedoen het ‘n goeie leerproses.

“Ek het soveel geleer en het regtig gedink dat die kompetisie baie strawwer sou wees.”

Sy sê al het sy vanjaar slegs met ‘n silwermedalje weggestap, het sy die kompetisie baie geniet en sal nou harder werk om volgende jaar ‘n gouemedalje te wen.

Quintis Reekie (18) boks reeds vir sowat vier jaar. Vanjaar het hy aan sy tweede SA’s deelgeneem en daar sy tweede gouemedalje in hierdie kompetisie ingepalm.

“Toe ek my opponent in die eerste rondte van die finale wedstryd uitslaan, was ek stomgeslaan. Ek het gedink dit sou moeiliker wees en was geskok oor hoe vinnig die geveg verby was.”

Hy sê dat hy baie hard gewerk het om suksesvol in die kompetisie te wees en voel elke keer trots wanneer hy na die medaljes kyk wat hy in sy kamer opgehang het.

Vir Charlene Engelbrecht was al haar harde werk tydens oefening en voorbereiding in die kryt die moeite werd toe sy tydens haar eerste SA’s met ‘n gouemedalje om die nek kon wegstap. Sy het haar opponent ook in die eerste rondte platgeslaan.

Dawid Gouws (15) sê hy het glo net gesorg dat hy fiks bly en het nie nodig gehad om so hard te werk om sy eerste gouemedale tydens die SA’s te kry nie. Hierdie medalje is een van tien medaljes en twee trofeë waarvoor sy ouers ‘n spesiale rak gaan opsit sodat dit daarop uitgestal kan word.

Casper Eloff (18) sê hy voel goed oor die silwermedalje wat hy by sy eerste SA’s behaal het. “Ek gaan nou natuurlik baie harder werk om volgende jaar ‘n gouemedalje te wen.”

Bryan Laranja (15) het tydens sy eerste SA’s in die semifinaal uitgeval toe sy opponent hom uitgeslaan het, maar hy sê dat dit hom nie gaan keer om volgende jaar weer deel te neem en ‘n medalje vir sy klub terug te bring nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button