Jong hengelaars maak Gauteng trots
Drie jong hengelaars het 'n silwermedalje vir Gauteng teruggebring nadat hulle 'n tweede plek tydens 'n hengelkompetisie verower het.
Drie jong hengelaars van die Wes-Rand was die enigste deelnemers wat Gauteng by vanjaar se Junior Nasionale Diepseehengel-kompetisie vir die onder 16-afdeling verteenwoordig het.
Jan-Hendrik Hendriksz, Corrie van Greune en Gus de Bod was opgewonde toe hulle hoor dat hulle gekies is om Gauteng as ‘n span in dié kompetisie, wat by St Francisbaai in die Oos-Kaap gehou is, trots te maak.
Deur harde werk en ‘n liefde vir hengel het hierdie seuns daarin geslaag om vir Gauteng ‘n silwermedalje terug te bring, wat beslis as ‘n besonderse prestasie bestempel kan word.
Omdat die see minstens 600 km van hulle af is, moes die Vaaldam in die Vrystaat as ‘n substituut vir die ware Jakob dien.
Tydens die kompetisie op die see moes hulle met 14 ander spanne en 42 hengelaars meeding en het selfs stof – of in dié geval water – in die ander provinsies en die onder 19’s se oë geskop.
Vir vier dae lank moes hulle elke oggend teen 4.30vm uit die vere wees, teen 5vm gou ontbyt eet en dan al hulle hengelgereedskap bymekaar kry om reeds teen 6vm uit te vaar.
Jan-Hendrik, ‘n leerling van Hoërskool Monument, was die kaptein en het die nodige leiding aan Corrie (van Hoërskool Noordheuwel) en Gus (van Laerskool Danie Theron in Carletonville) gegee.
Aan die einde van elke dag moes hulle die skipper se boot was, hulle eie gereedskap skoonmaak en hulle visse laat weeg.
Die feit dat dié seuns ook as die beste gemanierde en gedissiplineerde span in die kompetisie aangewys is, toon dat hulle koelkop en gefokus gebly het.
In die individuele afdeling het Corrie derde geëindig, en Gus en Jan-Hendrik het onderskeidelik die 20ste en 22ste plek behaal.
