Harlequins mors met Khosa
Harlequins Rugbyklub het al drie hulle wegwedstryde teen Khosa Rugbyklub gewen.
Die Khosa Rugbyklub is in ‘n onlangse kragmeting op hulle tuisveld ore aangesit toe die spelers van Harlequins Rugbyklub met hulle afgereken het.
Die paviljoen was vol ondersteuners, maar dit was duidelik dat die baie vurige Khosa-ondersteuners na die drie wedstryde met ‘n knop in die keel huiswaarts moes keer.
Vir ander was dit ‘n geleentheid om oor ‘n vleisie op die kole en ‘n yskoue keellafenis te kuier.
In die wedstryd tussen die eerstespanne het Harlequins amper eerste punte met ‘n skepskop aangeteken, maar Khosa het toe self punte op die telbord gekry na hulle ‘n skepskop tussen die pale deurgejaag het.

In die eerste helfte het dinge egter warm geword.
Harlequins het eerste ‘n drie gedruk wat toe met ‘n verdere twee aangevul is voordat Khosa voor die einde van die eerste veertig minute hulle eerste drie agter die doellyn gedruk het. Die telbord het op 21 teenoor vyf in Harlequins se guns gestaan.
In die tweede helfte het Harlequins hulle speelvernuf verder getoon en nog drie drieë gaan druk.
Toe die eindfluitjie blaas het Harlequins met 38 teenoor Khosa se vyf as oorwinnars uit die stryd getree.
Die ander tellings vir die dag was soos volg:
• Onder 20’s – Harlequins 25-10 Khosa
• Tweedespan – Harlequins 32-10 Khosa
Verwante artikel:
• Harlequins spelers met toekennings vereer
