Heerlike staproetes word vir Julie en Augustus deur die Krugersdorpse Stapklub beplan.
Die eerste roete, Hennops word vir 12 Julie beplan.
Hierdie is ‘n baie gewilde roete, redelik lank, sowat 15 kilometer met baie uitdagings vir die avonturier.
Daar word met ‘n sweefkarretjie oor die rivier gery, dan word daar met ‘n leer afgegaan na ‘n grot wat skuiling bied teen wind en weer. Daar word oor koppe en klowe gestap en wild kan ook gesien word. Goeie stapskoene en genoeg water (en energiestafies) is ‘n moet vir hierdie stap. ‘n Bedrag van R45 word vir volwassenes gehef. Die omgewing is pragtig en die roete is goed versorg. Dit is ‘n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié wat net eenvoudig ‘n goeie wegbreek en ‘n hele oggend in die rustige, pragtige natuur wil geniet.
Die roete by Kloofendal natuurreservaat word vir 9 Augustus beplan.
Stappers beskryf hierdie roete as gemaklik, lekker, pragtig en veilig, want van al die nabye roetes is hierdie stap werklik ‘n ontspanning vir siel en liggaam.
Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker. Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af, maar nie regtig hoog nie, en al lê dit in die middel van die woongebiede, is dit tog afgesonder, rustig en baie mooi.
Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op al die roetes. Dit is gratis om daar te gaan stap en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat die roete nie geniet nie.
Vir verdere besonderhede kan Phillip by 083 788 4555 of Babsie by 083 544 1102 geskakel word.
