Atlete wil medaljes in die VSA inpalm
Vier plaaslike atlete is reg om hulle land, sowel as hulle tuisdorp, in die Verenigde State van Amerika te verteenwoordig.
Vier plaaslike atlete het onlangs hulle tasse gepak om hulle land tydens die Junior Wêreldkampioenskappe in Oregon in die VSA te verteenwoordig.
Leandri Geel, Tebogo Mamathu, Lezaan Jordaan en Zinzi Chabangu is opgewonde om medaljes terug te bring.
Lezaan is die Suid-Afrikaannse Junior Gewigstootkampioen asook die Suid-Afrikaanse Senior South African Southern Region Kampioen.
Sy is gekies om Suid-Afrika in gewigstoot in die meisiesafdeling by die Junior Wêreldkampioenskappe te vereenwoordig en sê sy hoop om ‘n podiumplek in dié kompetisie te behaal.
Leandri, 17, die Suid-Afrikaanse Jeug Dogters Diskus-kampioen is die jongste van die atlete wat saamgaan en vir haar is dit ‘n groot eer om Suid-Afrika te verteenwoordig. Sy sê sy wil, as dit God se wil is, ‘n plek in die finaal verower.

Sy het haar land verlede jaar by die Jeug Wêreld Kampioenskappe in die Oekraïne verteenwoordig en het toe ‘n sewende plek behaal. Sy was toe die jongste dogtersdiskusatleet in die top 10 wat haar dus die nommer een plek in die wêreld besorg het.
Tans is sy as ‘n jeug diskusgooier nommer 10 op die wêreldranglys, maar behou die eerste plekke in Suid-Afrika sowel as Afrika.
Tebogo, ‘n 100-meteratleet sê sy is geweldig opgewonde en het die afgelope siesoen baie hard saam met haar afrigter Jaun Strydom van die Universiteit van Pretoria geoefen. Tebogo sê sy wil ook graag ‘n plek in die finaal behaal.
Zinzi, ‘n verspringatleet word deur Maryna van Niekerk, ‘n voormalige Springbok-verspringer afgerig.
“Ek is goed voorbereid vir die kompetisie en voel ek is in staat om ‘n podiumplek te behaal,” het sy voor hulle vertrek gesê.
