Boksgevegte beproef die senuwees
Agt boksklubs het by Avianto in Muldersdrift met mekaar gekompeteer.
Twaalf klipharde boksgevegte is onlangs by Avianto in Muldersdrift gehou wat kort-kort die meer as 100 toeskouers se senuwees beproef het.
Die aand is moontlik gemaak nadat Marlon Dunn, ‘n werknemer gevra het dat so toernooi aangebied word, sê Susan da Silva van die Krugersdorp-Wes Amateurboksklub.

“Ons het gedink dit is ‘n goeie idee omdat die boksers daarvan hou om aan so ‘n boksgeveg deel te neem. So kan hulle ook hulleself teen ander bokser van ander boksklubs meet en hulle sterk- en swakpunte raaksien.”
Die geleentheid, wat ‘n heerlike aandete ingesluit het, is in samewerking met die Avianto Amateurboksklub in Tarlton gehou en die opbrengs van die geleentheid is onder die twee boksklubs verdeel.

“Die gelde gaan aangewend word om onder andere vir ons klubs ekstra toerusting aan te skaf,” sê Da Silva.
Tussen gevegte deur is verskeie boksmemorabilia deur die afslaer Phillip Tron opgeveil.
“Almal het die aand baie geniet en ek glo ons sal binnekort weer so ‘n bokstoernooi reël,” sê sy.

Altesaam agt amateurboksklubs het aan die bokstoernooi deelgeneem, insluitend Booysenspark (Booy), Hoër Tegniese Skool Pretoria-Tuine (HTS), South Hills (SH), Kagiso (Kag), Witpoortjie (Wit), Krugersdorp-Wes (KW) en Avianto (AV).
Die volgende boksers het koning (en koningin) in die bokskryt gekraai: Mirinda Malajika (SH), Mighty Moilwa (KW), Shawn Kruger (KW), Ricardo Malajika (SH), Dino Malajika (SH), Richard da Silva (KW), Jassie Kotzé (KW), Nikita Wolff (KW), Ashley van Wyk (AV) en Collin Majoba .

In die roundabout-afdeling vir jong opkomende amateurboksers het Jayden Powdrell (KW) en Sinclere Ness (BOOY) sowel as Shane Niemandt (KW) en Wiehan Coetzee (HTS) teen mekaar geveg. Al vier is as wenners aangewys.
Richard da Silva is uiteindelik as bokser van die aand beloon.
Die boksgeveg wat die meeste geld deur die aand verdien het was die geveg tussen Jassie Kotzé en Nelson Raminos. Trevor D’Oliveira, eienaar van Avianto het aan hulle elkeen ‘n splinternuwe kamera oorhandig.
Verwante stories:
