Sussies witwarm op gholfbaan
Twee sussies van Noordheuwel is elkeen as die Speler van die Jaar aangewys.
Twee jong sussies van Noordheuwel speel die gholfbaan aan die brand.
Jozel en Jessica Janse van Rensburg – onderskeidelik nege en sewe jaar oud – van Future Golfers is albei hierdie jaar as die Speler van die Jaar in hulle onderskeie ouderdomskategorieë aangewys.
Dit is die tweede keer dat albei meisies hierdie titels ontvang nadat hulle die meeste punte in vanjaar se toernooie verower het.
Hulle ma Izel het gesê dié punte word dan gebruik om die Speler van die Jaar aan te wys.
“Albei die meisies het drie van die vier toernooie gewen wat gedurende die jaar gehou is.”
Jozel en Jessica sê hulle albei hou van gholfspeel, maar Jozel is moontlik die een wat daarmee sal voortgaan.
“Ek hou meer van model speel, dans en sing,” het Jessica gesê.
Jozel het op haar beurt gesê Tiger Woods is haar inspirasie omdat hy ook as ‘n klein seuntjie sy gholfvaardighede begin slyp het.
“Ek is met die gholfstok in die hand gebore,” het sy gelag.
“My ouers het vir my ‘n plastiekgholfstel gekoop toe ek jonger was en ek het dit stukkend gespeel. Dit is toe dat hulle my vir lesse gestuur het en die regte stokke gekoop het.”
Izel sê sy oefen geen druk op haar kinders uit om te presteer nie.
“Al reël wat ons het is dat hulle dit waarmee hulle begin het in ‘n jaar klaarmaak. Daarna kan hulle weer iets anders probeer – so ons gee hulle ‘n keuse.”
