Die Krugersdorpse Stapklub bied hul laaste staptog vir die jaar aan.
Op 13 Desember word Groenkloof aangepak.
Dit is een van ons gunsteling staproetes wat langs die Pretoria Tuine in die nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ‘n pragtige roete, met sy effens moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ‘n bonus.
Daar is verskillende rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas; ‘n fees vir die oog. Veral kinders geniet hierdie roete baie. Die omgewing is baie mooi, en is bedoel vir diegene wat ‘n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op ons roetes nie. Jy kan nog ‘n trein daar onder sien verbyry, en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Hulle het ‘n mooi piekniekterrein waar geparkeer word, en hier word daar gewoonlik ‘n vleisie gebraai as daar klaar gestap is.
Vir die nuwe jaar word die roete Kloofendal op 10 Januarie aangepak.
Hierdie is ‘n gemaklike, lekker, pragtige en veilige roete. Dit is hoe stappers hierdie roete beskryf, want van al die nabye roetes is hierdie stap werklik ‘n lafenis vir siel en liggaam.
Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker. Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af, maar nie regtig hoog nie, en al lê dit in die middel van die woongebiede is dit tog afgesonderd en rustig, en baie mooi. Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op al die roetes.
Dit is gratis om daar te gaan stap, en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat die roete nie geniet nie.
Vir eerste veldstappers is hierdie dus ‘n uitstekende geleentheid om die veld naby die huis in ‘n pragtige omgewing te geniet.
Vir verdere inligting oor die stapklub en hul roetes, skakel vir Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.
