Tiaan die tennisster is tops
Pasop Roger Ferderer, hier kom Tiaan Henning!
Krugersdorp se volgende tennisster Tiaan Henning het ‘n blaaskansie uit sy besige oefenprogram geneem om sy passie met die news-lesers te deel.
Nadat sy ma, Lizaan Henning hom aangeraai het om ‘n sportsoort te kies en daarop te fokus het die 12-jarige Tiaan op tennis besluit. Sedert hy nege jaar oud is, oefen hy daagliks saam met Hennie Kruger van die Krugersdorp Tennisklub. Hy het in 2014 beslis die vrugte van sy harde werk gepluk.
Tiaan het verlede jaar weggestap met drie gouemedaljes vir oorwinnings by SA School Sport, as lid van Team Gauteng 2014 en as SA School Champions. Hy was ook deel van die span wat die nasionale kampioenskappe vir die onder 12-ouderdomsgroep gewen het.
Met harde werk en baie sweet het hy ook van die 342ste plek op die nasionale ranglys na die 168ste plek opgeskuif.
Hy het gesê een van sy nuwejaarsvoornemes is om sy posisie te verbeter en om vanjaar onder the top 50 tennisspelers in die land erken te word.
“Omdat die Here my hierdie tennisgawe gegee het, oefen ek daagliks om Hom eendag op die groot bane te verteenwoordig wanneer ek ‘n internasionale tennisster is,” het Tiaan trots gesê.
Behalwe dat die besige sportster sowat ses uur ‘n week aan sy tennis bestee, geniet hy dit om in sy vrye tyd te lees en sy brein met legkaarte te prikkel.
Sy gunsteling tennisster is niemand anders as Roger Federer nie.
“Rugby en krieket het nie vir hom gewerk nie,” het sy ma gespot.
Soos vele ander sportsterre het Tiaan ook sekere bygelowe op die baan wat insluit om die bal vier keer te laat bons voor hy afslaan.
Die belangrikste les wat hy by Hennie geleer het is dat mislukking die oorsaak van te min deursettingsvermoë is.
Pasop Roger Federer, hier kom Tiaan Henning!
