Vriendskappe word hier gesmee
Hier by die Kenmare Rolbalklub, wat oor twee jaar hul 100ste bestaansjaar vier, is dit duidelik dat daar 'n groot liefde vir dié sportspel is.
Hier op die lowergroen gras kom rolbalvriende drie keer per week bymekaar om hul rolbalvernuf op te skerp, want die laaste paar weke se reën het die gras laat sing.
In twee jaar sal die Kenmare Rolbalklub sy 100ste bestaansjaar vier en lede soos Tom Knee, wat al jare lank deel is van die klub sê daar is al baie vriendskappe op hierdie einste baan gesmee.
Hierdie stelling is deur Jouberta Baird bevestig wat nou reeds drie maande lank saam met haar man Deon op die baan met die ander spelers sosiaal verkeer en deur Knee afgerig word.

“Ek geniet dit vreeslik! Hier maak ‘n mens nuwe vriende en dan wonder jy waarom het jy nie al vroeër aangesluit nie.”
Sy klem haar bal vas, buk af en probeer haar bal so na aan die kleiner wit doelbal, ook bekend as die “jack” of “kitty” aan die ander kant van die baan te rol.
Vir Philip Cloete bied rolbal vir hom ‘n geleentheid om nie eensaam te voel nie.
“Ek het sowat twee en ‘n half jaar gelede aangesluit na my vrou Mardie se afsterwe. Ek het iets gesoek om myself besig te hou en moet sê ek geniet elke oomblik hiervan.”

Knee het gesê die klub spog tans met 120 lede.
“Ons het ook al agt nuwe aansoeke ontvang. Ek dink rolbal het veral weer gewild geword nadat dit soveel blootstelling verlede jaar by die Statebondspele ontvang het.”
Hy verduidelik dat dit nie net ‘n spel is vir ouer mense nie.
“In die distrik het ons selfs spanne vir onder 19 en onder 25 ouderdomsgroepe.”
Lede kom elke Donderdag- en Saterdagmiddag en Sondagoggende van elke week bymekaar by die rolbalklub in Downstraat, Kenmare.
Vir meer inligting oor hoe om aan te sluit kontak kontak die rolbalklub by 011 664 6062.
