Pa en seun swem Midmar Myl
'n Pa-en-seunspan het onlangs die Midmar Myl geswem en bring meer as net medaljes terug huis toe.
Die Midmar Myl-kompetisie wat op 6 Februarie plaasgevind het, was die vierde een waaraan hierdie pa en seun deelgeneem het.
Omdat dit nie vir hulle ‘n kompetisie is nie, swem Marinus de Beer en sy seun Marnu dit as ‘n span om hul hegte band nog sterkter te maak.
“Ons het die afstand net-net voltooi,” lag Marinus wat die adjunkhoof van Laerskool Krugersdorp-Noord is.
Hulle staan trots buite die kantoor en vertel aan die news van hulle streng voorbereidings wat gepaard gaan met so ‘n uitdaging.
“Nie net is dit goeie oefening nie, maar die oefening laat my toe om kosbare tyd saam met my seun deur te bring.”
Alhoewel die Midmar Myl ‘n strawwe kompetisie is, geniet hierdie Krugersdorpers dit om nie net hulle fisiese krag en deursittingsvermoë te toets nie maar ook om die verhouding wat hul as pa en seun het, te versterk.
Hulle oefen by die Virgin Active gimnasium en swem graag in die Kroningsdam in Krugersdorp.
Marinus vertel dat die dam verbasend skoon is en dat die water dikwels getoets word. Toe die news vir die De Beers vra wie die vinnigste swem, het pa Marinus skaam erken dat sy seun besig is om hom vinnig in te haal.
Marinus en Marnu sê hulle sien uit na jare se gesonde kompetisie saam in die water.
