Vir Maart en April bied die Krugersdorpse Stapklub heerlike staproetes aan vir belanstellendes.
Op 14 Maart gaan die klub Kranskloof aandurf.
Die roete is naby Buffelspoort vakansie-oord, en klimaatsgewys ook omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken. Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens op die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap. Maar dan draai die stappers links en is skielik dan in die kloof. Wat ‘n aangename verrassing!
Skielik is jy in die allermooiste omgewing denkbaar – kranse, water, rotse, noem maar op, alles is daar. Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon en daar is selfs ‘n grot of twee. Al is dit rotsagtig, is daar baie plek om gemaklik te kan stap. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet, maar as jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom terug”.
Op 11 April gaan die klub die Kingskloof roete stap.
Hierdie is ‘n nuwe roete vir die klub. Die roete lê grotendeels agter die berg, naby Oaktree. Toegangsgeld is R30 per persoon en motors word veilig agter die hek parkeer.
Daar word eers in die rigting na die berg gestap, en al lyk dit aanvanklik ver, is dit ‘n maklike gelyk stap, verby ‘n plaasdam waar daar ook kleedkamers is. Daar word al langs die spruitjie na die berg se kant toe gestap tot by die waterval.
Dit is werklik ‘n fantastiese roete en ‘n plesier om te stap, maar daar is geen bome op die roete as skuiling as dit baie warm sou word nie. Water en ‘n hoed sal dus baie noodsaaklik wees.
Stappers kom by Fruit & Veg by Heritage Square bymekaar voor die staptog.
Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
